Nuus 18:00
BULLETIN 17 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA sê om NSFAS onder administrasie te plaas was onnodig
# Die soektog duur voort vir slagoffers ná ‘n aardbewing in Indonesië
# En, sokker: Cristiano Ronaldo tree moontlik uit aan die einde van die seisoen
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik, sê die krisis by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente kon vermy gewees het as die vakatures op die raad gevul was in plaas daarvan om die skema onder administrasie te plaas. Dit volg na ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria wat die aanstelling van die skema se administrateur, Hlengani Mathebula, opskort en die oorblywende raadslede in hul posisies herstel. Die uitvoerende hoof van OUTA, Wayne Duvenage, doen ‘n beroep op die versterking van die raad, die herstel van bestendige leierskap en die voortsetting van studentefinansiering sonder ontwrigting.
# Die DA sê ‘n kontrak van 197-miljoen-rand vir Gauteng Verkeer se lugvleuel het die verkrygingsreëls oortree, met 156,4-miljoen-rand wat reeds betaal is. Die DA-lid, Michael Sun, sê vier amptenare word by die saak betrek, maar niemand is nog geskors of gestraf nie. Hy sê die kontrak met Simunye Air Charter is in Januarie beëindig ná bevindings deur die Ouditeur-generaal en ‘n verwysing na die Spesiale Ondersoekeenheid. Sun sê die lugvleuel is tans buite werking en Gauteng word gedwing om staat te maak op 12 geleende helikopters:
# Die Stad Kaapstad bied ‘n beleggingsverbindingskonferensie aan by Century City om bekostigbare behuisingslewering te versnel en privaatsektorbeleggings te lok. Die burgemeesterskomiteelid vir Menslike Nedersettings, Carl Pophaim, het aan die SABC gesê die stygende bevolking maak behuising ‘n toenemend dringende behoefte. Die konferensie bespreek die ontsluiting van munisipale grond, die stroomlyning van ontwikkelingsregulasies, en die bevordering van groen en alternatiewe boutegnologieë. Hy sê vennootskappe met beleggers is noodsaaklik vir meer bekostigbare behuising:
# Reddingswerkers in Indonesië is op soek na slagoffers wat vasgekeer is onder geboue nadat minstens 68 mense in ‘n kragtige aardbewing dood is. Meer as 200 mense is beseer en duisende is ontruim. Bykans een-duisend-600 naskokke het die eilandnasie getref, met talle inwoners wat in tente skuil omdat hulle bang is om terug te keer huis toe. Die aardbewing het grondstortings veroorsaak en paaie versper, wat reddingspogings bemoeilik. Owerhede tref voorbereidings vir helikopters om afgesonderde gebiede te bereik. Die ramp het ook ‘n skadu oor die land se Onafhanklikheidsdagvieringe gewerp met inwoners wat verdere naskokke vrees.
# Sokker: Die 41-jarige Cristiano Ronaldo het laat blyk dat hy dalk aan die einde van die seisoen gaan uittree. Die Portugese kaptein se kontrak met die Saoedi-Arabiese Pro-liga-kampioen Al-Nassr verstryk volgende jaar. Ronaldo het aan Vogue gesê sy toekoms is beplan, en beklemtoon dat hy baie dinge het om hom besig te hou. Hy het vyf Ballons d’Or’s en vyf Kampioeneliga-titels gewen, asook ligatitels in Engeland, Spanje en Italië en die Europese Kampioenskap en Nasiesliga saam met sy land.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-20-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-563-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-408-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 90-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….