Nuus 18:00
BULLETIN 30 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party beskuldig Ramaphosa van polities-gedrewe optrede na aanleiding van Mkhwanazi se bewerings
# Borgtog word geweier aan ‘n beskuldigde in die moord op die vyfjarige Ditebogo Phahlane
# En krieket: Indië onttrek aan die halfeindstryd van die Wêreldkampioenskap vir Legendes teen Pakistan
# Die MK-party sê president Cyril Ramaphosa se reaksie op bewerings van politieke inmenging deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, weerspieël polities-gedrewe optrede. Die party het in die Konstitusionele Hof aangevoer Ramaphosa se besluit om die minister van Polisie, Senzo Mchunu, op spesiale verlof te plaas, toon dat hy politieke bondgenote beskerm. MK se regsverteenwoordiger, Anton Katz, het aan die hof gesê dit kom neer op ongelyke behandeling na die afdanking van die voormalige adjunkminister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Andrew Whitfield:
# Die Landdroshof in Pretoria-Noord het borgtog geweier aan ‘n man wat beskuldig word van die moord op die vyfjarige Ditebogo Phahlane tydens ‘n inbraak by sy ouerhuis in Soshanguve. Elia Moeko staan onder meer tereg op aanklag van moord en roof. Aanklaers voer aan hy is ‘n vlugrisiko en het vorige veroordelings. Lumka Mahanjana van die NVG het bevestig sy medebeskuldigdes, Ali Sithole en Nido Gumbe, het hul borgtog-aansoeke laat vaar. Sy sê die saak is tot 10 September uitgestel.
# Die Gesondheids-ombud, Taole Mokoena, sê psigiatriese pasiënte in die Noord-Kaapse Geestesgesondheidshospitaal het weens uiterste koue gesterf weens kragonderbrekings. Mokoena, wat vandag sy verslag vrygestel het, het verkluiming, personeeltekorte, swak infrastruktuur en ’n gebrek aan noodtoerusting die skuld gegee. Die ondersoek volg na ‘n klagte van die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi. Die ombud het die omstandighede in gesondheidsinstelling in Kimberley as haglik beskryf en dring aan op dringende hervormings en beter toesig om verdere voorkombare sterftes te keer:
Die Gautengse Gesondheidsdepartement stel intussen nuwe maatreëls in om nosokomiese besmettings in openbare hospitale te bekamp. LUR Nomantu Nkomo-Ralehoko sê ‘n komitee vir die voorkoming en -beheer van besmettings handhaaf riglyne en monitor nakoming. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê ses onderpresterende hospitale het handhawingsbriewe ontvang. Hy voeg by ‘n nuwe toesigstelsel hou besmettings-neigings dop en antimikrobiese spanne is aangestel om weerstand te voorkom:
# Krieket: Indië het volgens berigte onttrek aan môre se halfeindstryd teen Pakistan in die Wêreldkampioenskap vir Legendes. Dit volg nadat Indië vroeër in die groepsafdeling ook geweier het om teen sy buurland te speel weens die jongste vyandigheid tussen die twee aartsvyande. Indië se besluit beteken Pakistan dring deur na Saterdag se eindstryd op Edgbaston in Birmingham, Engeland. Die span kom te staan teen die wenner van môre se halfeindstryd tussen Suid-Afrika, aangevoer deur die voormalige Protea-ster AB de Villiers, en Australië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 117-duisend-812-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-305-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 71-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….