Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Minister McKenzie word beskuldig dat hy mense se waardigheid ondermyn met die publikasie van die bystandsfonds-ontvangers se name
# Skole in die Kaapse Wynland en die Overberg bly môre gesluit weens die gure weer
# En, die Olimpiese Spele: Rusland vergoed 245 atlete wat nie in Parys mag deelneem nie
# Die nuwe minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, kom kwaai onder skoot oor sy besluit om die name van atlete en kunstenaars te publiseer, wat finansieel voordeel getrek het uit die Covid-19-bystandsfonds. Hy word daarvan beskuldig dat hy die waardigheid van ontvangers aantas wat onder die streng inperkings gesteier het. Die mediapersoonlikheid, Sizwe Dhlomo, beskryf die publikasie van die lys as ‘n politieke foefie. McKenzie het vandag ‘n tweede lys ontvangers gepubliseer en sê dit was openbare geld en Suid-Afrikaners het die reg om te weet wie dit ontvang het.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê skole in die Kaapse Wynland- en Overberg-onderwysdistrikte sal môre gesluit bly. Die besluit volg op gure weer wat uitgebreide padskade en oorstromings veroorsaak het, wat ‘n veiligheidsrisiko inhou vir leerders en onderwysers. Millicent Merton van die departement sê skole sal na verwagting Maandag heropen, afhangend van voortgesette beooordeling en herstelwerk aan beskadigde infrastruktuur:
# Action Society het ‘n vergadering aangevra met die minister van Polisie, Senzo Mchunu, oor veiligheidshervormings. Woordvoerder Juanita du Preez lig kommer uit oor polisiekorrupsie en -wanbestuur en stel maatreëls voor soos ‘n teen-korrupsie-eenheid, verbeterde verklikker-beskerming en gereelde openbare verslagdoening. Sy sê Action Society wil met Mchunu saamwerk om openbare veiligheid te verbeter en vertroue in wetstoepassing te herstel:
# Alexforbes merk op nie alle aftreefondse sal tweepotstelsel-toepaslik wees nie. Pensioenmaatskappye deel nou meer inligting oor hoe die proses sal werk. John Anderson van Alexforbes omskryf die finansiële gevolge van onttrekkings uit die spaarpot, asook die voorwaardes en uitsluitings wat in ag geneem moet word. Hy sê die tweepotstelsel wil balans gee tussen spaar vir aftrede en onmiddelike korttermyn behoeftes:
# Olimpiese Spele: Rusland het vergoeding aan 245 atlete betaal wat nie aan die vereistes voldoen vir deelname in Parys nie. Hoewel Rusland en Belarus weens die oorlog in Oekraïne verbied word om aan die Spele deel te neem, kan sommige atlete as neutrales deelneem mits hulle nie die oorlog steun en geen verband met die militêre magte het nie. Slegs 16 Russiese atlete sal in Parys wees in vergelyking met die 355 met die vorige Spele in Tokio, waar die land 71 medaljes ingepalm het, insluitend 20 goues.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-919-dollar-89-sent. Die prys van goud is twee-duisend-411-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….