Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Wes-Kaapse skole gaan heropen te midde van kommer oor die weer
# Polisieforums vra minister Mchunu om misdaadbestryding-strategieë in te stel
# En, rugby: Rassie Erasmus waarsku Ierland is oorgehaal vir Durban
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement is slaggereed vir die derde kwartaal wanneer leerders môre terugkeer skool toe, ondanks die gure weer in die provinsie. Woordvoerder Bronagh Hammond bevestig alle skole sal heropen hoewel individuele sluitings oorweeg sal word weens die begaanbaarheid van paaie. Volgens Hammond was daar berigte van skade by 29 skole, en drie aan die Weskus se dakke is ernstig beskadig. Sy vra leerders om hulle voor te berei op ‘n nat begin en versigtig te wees:
# Gemeenskaps-polisie-forums het die minister van Polisie, Senzo Mchunu gevra vir doeltreffende misdaadbestryding-strategieë. Die forums eis verbeterde polisie-sigbaarheid in hoë-misdaadgebiede, beter personeel-ontplooiing en bronne by polisiekantore en verbeterde reaksie-tye. ‘n Verslag deur die Instituut vir Sekerheidstudies lig ‘n 53-persent toename in moorde sedert 2012 uit en swak polisie-prestasie met die oplossing van sake. Gareth Newham van die instituut vra Mchunu om te fokus op die vermindering van vuurwapen-misdade en geweld, en om die polisiebestuur en tugproses te verbeter.
# Die bestuur van die Gautrein waarsku teen die beskadiging van eiendom terwyl werkers wat by NUMSA geaffilieer is buite sy depot staak. Die werkers eis ‘n salarisverhoging van 13-persent, gewaarborgde bonusse, ‘n 60-persent mediese fondsbydrae, ‘n maandelikse behuisingstoelaag van twee-duisend-rand asook oortydbetaling. Uitvoerende hoof, Tshepo Kgbobe, het aan Newzroom Afrika gesê hulle werk aan ‘n oplossing en ondersoek nuwe diensvoorstelle, en benadruk terselfdertyd die bereidheid van die agentskap om ‘n gemeenskaplike oplossing te vind:
# Dokters sonder Grense en die Health Justice Initiative verwelkom Johnson & Johnson se besluit om sekondêre patente in Suid-Afrika op die lewensgewende TB-middel Bedaquiline te onttrek. Die organisasie sê dit sal toegang tot bekostigbare middels verhoog, wat duisende tuberkulose-lyers sal bevoordeel. Die prys van die middel het met bykans 40-persent gedaal. Die organisasie noem dit ‘n baanbrekersoorwinning wat wydverspreide toegang verseker en die Suid-Afrikaane regering sal toelaat om die nodige volumes te koop vir behandeling vir almal, insluitend mense in landelike gebiede.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê hy is verlig hulle het Ierland die eerste keer onder sy aanvoering ondergekry. Die Bokke het Suid-Afrika tevrede gestel met ‘n oorwinning van 27-20 op Loftus Versfeld na drie nederlae teen die Iere. Die twee spanne pak mekaar weer Saterdag in Durban en Ierland sal alles in die stryd werp om die reeks gelykop te maak, terwyl Suid-Afrika vasberade is om skoonskip te maak. Erasmus waarsku die besoekers is oorgehaal om op Kingspark te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-64-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-51-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-376-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….