Nuus 18:00
BULLETIN 4 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA in die Wes-Kaap is positief oor die invloed van die regering van nasionale eenheid
# Die Bidvestgroep raak ontslae van Bidvestbank en FinGlobal
# En, sokker: Erik ten Hag verleng sy kontrak met Manchester United
# Die DA in die Wes-Kaap vertrou die regering van nasionale eenheid sal ‘n positiewe uitwerking hê op provinsiale politiek, en beter dienslewering tot stand bring. Dit sluit steun in vir sy Wetsontwerp op Provinsiale Magte, ondanks die ANC se beswaar. Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het aan die SABC gesê die nasionale regering sal help om beleid te ontsluit vir die groei van die provinsie se ekonomie, en infrastuktuur, spoorvervoer en behuising verbeter:
# Die Bidvestgroep het planne aangekondig om binnekort Bidvestbank en FinGlobal te verkoop. Die groep sê hulle mik na toegewyde finansiële dienste-eienaarskap vir volhoubaarheid. Die uitvoerende hoof, Mpumi Madisa, sê die verkoopproses wil teen die einde van die jaar ‘n koper hê, onderhewig aan regulatoriese goedkeuring. Die oorblywende versekerings-afdeling sal verskuif word na Bidvest se voertuigafdeling. Madisa plaas klem op die strategiese herstrukturering vir volhoubare groei en waardeskepping vir belanghebbers. Sy verseker kliënte Bidvestbank sal operasioneel bestendig bly tydens die oorgang.
# Aandele in Tokio het vandag tot nuwe hoogtepunte gestyg. Dit is ‘n navolging van die rekordvlakke op Wall Street waar optimistiese beleggers Amerikaanse tegnologie-aandeelpryse hoër laat styg het. Vandag se hoogtepunt was in ooreenstemming met stygings regoor Asië, waar beleggers aangevuur is deur vars data wat aandui die Amerikaanse arbeidsmark is besig om te verlangsaam, wat die Federale Reserweraad ruimte gee om rentekoerse te begin verlaag.
# Sokker: Erik ten Hag het sy kontrak as bestuurder van Manchester United verleng tot Junie 2026. Die 54-jarige Nederlander het in twee jaar twee bekers by Old Trafford gewen. United het dié seisoen teruggesak na ‘n teleurstellende agste plek in die Premierliga en is in die groepsfase van die Kampioeneliga uitgeskakel. Die feit dat die span Manchester City in die FA-beker-eindstryd geklop het, was egter deurslaggewend om Ten Hag sy pos te laat behou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-295-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-15-sent per vat.
# En, die Stad Kaapstad ervaar ‘n aansienlike toename in rolprentpermitte, wat sy groeiende aantrekkingskrag as ‘n internasionale verfilmingsbestemming beklemtoon. Die rolprentpermitkantoor het in die vorige boekjaar vier-duisend-757 permitte aangeteken, ‘n toename van 22-persent teenoor die vorige jaar. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die stad het ook tariewe vir die vierde agtereenvolgende jaar gevries om die bedryf verder te ondersteun:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….