Nuus 18:00
BULLETIN 3 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC bevestig die Gautengse premier sal vanaand sy uitvoerende raad aankondig
# ‘n Vakbond vra oplossings vir oorbevolking en personeeltekorte in tronke
# En, krieket: Die T20 Wêreldbekerwenners Indië is uiteindelik op pad huis toe
# Die ANC het bevestig die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, sal nog vandag sy uitvoerende komitee aankondig. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê ‘n ooreenkoms is nie met die DA bereik nie, ondanks vordering met samesprekings. Hy het in Luthuli-huis in Johannesburg aan die media gesê hulle kan nie toegee aan die DA se jongste voorstelle nie, en onderhandelings duur voort met talle partye, nie net die DA nie, vir ‘n regering van provinsiale eenheid:
# Die Vakbond vir Suid-Afrikaanse Korrektiewe Dienstewerkers is bekommerd oor tronk-oorbevolking, personeeltekorte en geweld. Die vakbond verwag aansienlike verbeterings aan tronk-omstandighede met die aanstelling van die nuwe minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald. Woordvoerder Alude Jizana sê hulle onderneem om nou saam te werk met Groenewald om veiligheid, geregtigheid en rehabilitasie in korrektiewe dienste-sentrums te verbeter:
# Brittanje se politieke leiers het vandag vir oulaas stemme probeer werf op die laaste dag van ‘n veldtog wat na verwagting sal uitloop op ‘n Arbeidersregering nadat die Konserwatiewes 14 jaar aan bewind was. Kiesers stem van môre-oggend af, met peilings wat voorspel die Arbeiders sal hulle eerste algemene verkiesing wen sedert 2005, wat die leier Keir Starmer die eerste minister sal maak. Met die uitkoms sal Brittanje na links swaai, terug na die middelposisie, na amper ‘n dekade en ‘n half van regse Konserwatiewe regerings.
# Krieket: Indië se T20 Wêreldbekerwenners is uiteindelik op pad huis toe nadat ‘n orkaan in die Wes-Indiese Eilande hulle vertrek vertraag het. Die gunstelinge het Saterdag die titel ingepalm met hulle oorwinning oor Suid-Afrika in ‘n spannende eindstryd, maar hulle reisplanne is omgekrap deur orkaan Beryl. Rohit Sharma se manne sal volgens beplanning môre-oggend in die Indiese hoofstad, Nieu-Delhi, aankom waar hulle sal bladskud met eerste minister Narendra Modi. Die spesiale vlug is gereël nadat die spelers na die oorwinning drie dae lank in ‘n hotel gestrand was.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-446-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-360-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-57-sent per vat.
# En, die Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanningskomitee vir Durban Toerisme sê hy is gereed vir Saterdag se Durban July-perdewedren op die Greyville-renbaan. Die voorsitter van die komitee, Thembo Ntuli, het aan die SABC gesê hulle verwag ‘n ekonomiese hupstoot en meer as vyf-duisend nuwe werksgeleenthede, met meer as 50-duisend besoekers aan Afrika se grootste perdewedren. Vrydag se Durban July Preview Show sal KwaZulu-Natal se modebedryf ten toon stel. Ntuli verseker streng sekerheid vir toeriste en inwoners:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….