Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra die ANC om die verkiesinguitslag as ‘n wekroep te erken
# Daar is kommer oor die styging in minderjarige dobbelary
# En, atletiek: Sha’Carri Richardson op pad na die Spele na vinnigste 100-meter van die jaar
# Cosatu vra die ANC om ontevredenheid onder kiesers in die verkiesingsuitslae te erken as ‘n duidelike teken om sy vertoning te verbeter. Die federasie onderneem om die regering van nasionale eenheid aanspreeklik te hou, in noue samewerking met sy alliansievennoot, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Cosatu se hoofsekretaris, Solly Phetoe, verwag president Cyril Ramaphosa sal sy alliansievennote raadpleeg oor die samestelling van die kabinet:
# Die Suid-Afrikaanse Stigting vir Verantwoordelike Dobbelary is bekommerd oor die styging in minderjarige dobbelary. Verhoogde toegang en die vals aantrekkingskrag van maklik geld, maak veral sokkermal Suid-Afrikaanse jeugdiges kwesbaar vir die skadelike gevolge. Die uitvoerende direkteur, Sibongile Simelane-Quntana, sê dobbel op selfone en wedmaatskappye teiken nou Gen Z en millennials. Die stigting bemerk ‘n neiging tot verslaafdheid onder mense tussen 18 en 35:
# Die groep Universal Basic Income Coalition is besorg oor die toenemende aantal digitale struikelblokke om toegang te kry tot die maatskaplike noodtoelae. Die koalisie beweer die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid gebruik bedrog as ‘n rede om toegang te bemoeilik. Talle begunstigdes kan geskors word en moet ingewikkelde biometriese toetse aanlyn ondergaan. Die koalisie kritiseer ook die gebrek aan deursigtigheid by SASSA en die ongevraagde las op kwesbare individue. Hy vra aanspreeklikheid en duidelike kommunikasie van SASSA.
# Atletiek: Sha’Carri Richardson het seker gemaak van haar plek by die Olimpiese Spele in Parys nadat sy die vroue-100-meter by ‘n oefenbyeenkoms in Amerika gewen het. Die 24-jarige wêreldkampioen het gewen in 10,71-sekondes, vanjaar se vinnigste tyd, en deurgedring na haar eerste Spele. Richardson het drie jaar gelede ook die 100-meter by ‘n Olimpiese-oefenbyeenkoms gewen, maar kon nie in Tokio deelneem nie omdat sy positief getoets het vir daggagebruik.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-540-dollar-67-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-68-sent per vat.
# Ten slotte: Suid-Afrikaanse werknemers is onder die gelukkigste ter wêreld, en toon hoër vlakke van betrokkenheid en geesdrif, vergeleke met die globale gemiddeld. Volgens Gallup se State of the Global Workplace-verslag, is 29-persent van Suid-Afrikaanse werknemers in hulle werkplekke betrokke, wat die wêreldwye gemiddeld van net ses-persent oorskry. Dit word toegeskryf aan sterk arbeidswetgewing en positiewe werkservarings. Hoë betrokkenheid bevorder produktiwiteit, personeelretensie, en beter kliëntediens, met positiewe sake-uitkomste. Ondanks uitdagings soos daaglikse stres, ervaar 56-persent van die land se werknemers ‘n afname in hul vlak van ontevredenheid en soek nie aktief na ander werk nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….