Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit oorweeg regstappe oor wanbestuur by pensioenfonds
# Die moordsaak van ‘n fyngebak-sjef is uitgestel vir verdere ondersoeke
# En, rugby: Willie le Roux is uit, maar Kurt-Lee Arendse is terug vir die Bulle
# Die vakbond, Solidariteit, oorweeg regstappe weens kommer oor wanbestuur van die staatsdienspensioenfonds. Die doel is om die pensioenarisse se belange te beskerm te midde van vrese van nog wanbestuur en moontlike finansiële verliese. Kenners het by ‘n onlangse beraad kwessies uitgelig insluitende ongerymdhede in die verlede en nuwe wetgewing wat vroeë onttrekking van pensioengeld magtig. ‘n Woordvoerder van Solidariteit, Marius Croukamp, is bekommerd die fonds, die grootste pensioenfonds in Afrika, kan verliese ly indien staatsdienswerkers hulle fondse voortydig onttrek:
# Die saak teen Siboniso Zitha, wat aangekla word van die moord op die fyngebak-sjef, Thembekile Letlape, is uitgestel tot 19 Augustus. Die NVG in Gauteng se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, het bevestig Zitha het ‘n voorlopige klagstaat by die landdroshof in Randburg ontvang. Sy sê Zitha, wat aanvanklik van Letlape se moord aangekla is, staar nou bykomende aanklagte in die gesig, insluitend aanranding en opsetlike saakbeskadiging:
# Die kusstreeksbestuurder van Stefanutti Stocks, Matthew Horwill, het vanoggend ‘n aanslag op sy lewe in Pinetown, wes van Durban, oorleef. ‘n Gewapende man het die 44-jarige in ‘n hinderlaag gelei toe hy die hoofkwartier van die maatskappy nader en het die motor minstens sewe keer getref. Horwill is in die arm gewond. Hy is in Maart as die besturende direkteur van die kusstreek aangestel, maar is reeds sedert 2003 by die maatskappy. ‘n Saak van poging tot moord is geopen en die verdagte bly op vrye voet.
# ‘n Britse toeris is voor ‘n nagklub naby Barcelona in Spanje, doodgesteek. Die polisie het bevestig daar was ‘n sterfte en nog ‘n persoon is beseer en hospitaal toe geneem. Volgens SkyNews was daar vanoggend in die vroeë oggendure ‘n bakleiery voor die Oxygen-nagklub en is die toeris op die toneel dood verklaar. Die Katalaanse polisie het in ‘n verklaring gesê hulle ondersoek die gewelddadige dood van ‘n 31-jarige man.
# Rugby: Die Bulle het die dienste verloor van die spelskeppende heelagter, Willie le Roux, vir môre se eindwedstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap, maar die opwindende vleuel, Kurt-Lee Arendse, is weer op sy pos in die opdrafspan. Devon Williams skuif van vleuel na heelagter. Johan Goosen begin weer op losskakel met Chris Smith op die bank. Akker van der Merwe en Nizaam Carr is twee van die impakspelers op die bank. Afskoptyd op Loftus Versveld in Pretoria is more om ses-namiddag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-90-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-957-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….