Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ANC se uitnodiging aan alle partye vir ‘n regering van nasionale eenheid bemoeilik sake
# Die Britse eerste minister word gestriem omdat hy die D-Dag-herdenking vroeg verlaat het
# En, krieket: Die derde seisoen van die SA20 begin op 9 Januarie volgende jaar
# Die DA is bekommerd oor die ANC se uitnodiging aan alle partye om by ‘n regering van nasionale eenheid aan te sluit. News24 berig hoewel die DA volhou hy is verbind tot die proses, bemoeilik die breë uitnodiging sake. Die party vra meer besonderhede voor hulle leiers Maandag byeen kom om die voorstel te bespreek. ‘n Woordvoerder van die DA, Werner Horn, sê dit is noodsaaklik om partye in te sluit wat die bestaande grondwetlike orde, die oppergesag van die reg en die vryemark-ekonomie onderskryf.
Die onafhanklike kandidaat, Anele Mda, sê intussen onafhanklike kandidate is nou ‘n permanente deel van die Suid-Afrikaanse politiek. Dit volg nadat Suid-Afrika geskiedenis gemaak het deur onafhanklike kandidate by ‘n algemene verkiesing in te sluit. Tien kandidate het deelgeneem, maar nie een kon genoeg stemme kry vir ‘n setel in die Nasionale Vergadering nie. Mda was met drie-duisend stemme die naasbeste onafhanklike kandidaat:
# Die Britse eerste minister, Rishi Sunak, is onder skoot omdat hy gister se D-dag-herdenking in Frankryk vroeg verlaat het. Wêreldleiers was byeen vir die 80ste herdenking van die Geallieerde magte se landing in Normandië tydens die Tweede Wêreldoorlog. Veterane wou weet hoekom Sunak nie een middag kon gee vir mense wat hul lewens opgeoffer het nie, met selfs sy minister van Veterane, Johnny Mercer, wat dit ‘n fout genoem het. Sunak het om verskoning gevra en gesê hy gee om vir veterane. Hy het gerugte ontken dat hy van plan was om die geleentheid heeltemal mis te loop.
# Krieket: Die derde seisoen van die suksesvolle SA20 vind vanaf 9 Januarie tot 8 Februarie volgende jaar plaas. Die kommissaris, Graeme Smith, sê Krieket Suid-Afrika beplan om steeds die plaaslike somer as sy eie te behou en ‘n geleentheid aan almal te bied om van die beste spelers te geniet, hetsy in volgepakte stadions of deur wêreldwye uitsendings. Die vorige twee seisoene is gekenmerk deur rekord bywoning, ‘n groeiende kykertal en speler-genot van meer as 95-persent. Sunrisers Eastern Cape het die eerste twee seisoene gewen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-82-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-159-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Altesaam 66 polisiebeamptes van Gauteng gaan Sondag aan die Comrades-marathon in KwaZulu-Natal deelneem. Die wedloop begin by die Durbanse stadsaal en eindig by die Scotsville-perdewedrenbaan in Pietermaritzburg. Dit strek oor 85,91 kilometer. Die provinsiale polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê die bestuur moedig voortdurend fiksheids- en welstandsprogramme aan om te verseker beamptes is deurentyd fiks en geestelik skerp om burgers te dien en te beskerm:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….