Nuus 18:00
BULLETIN 5 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC waarsku teen waninligting op digitale platforms
# ActionSA sê Mashaba en Beaumont sluit nie aan by die sewende Parlement nie
# En, tennis: Zverev is gereed om te veg vir die laaste plek in die halfeindronde van die Franse Ope
# Die ANC waarsku teen die verspreiding van fopnuus op digitale platforms en neem kennis van vals dokumente wat rondgestuur word as amptelik. Die party sê amptelike kommunikasie sal slegs deur sy amptelike kanale vrygestel word. ‘n ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, het gevra vir ‘n einde aan hierdie bedrywighede, wat onsekerheid skep. Bhengu-Motsiri het die party se verbintenis herhaal om die publiek ingelig te hou, in ooreenstemming met die kiesers se begeerte vir ‘n samewerkende regering:
In nog ‘n verwikkeling sal die leier van ActionSA, Herman Mashaba, en die nasionale voorsitter, Michael Beaumont, nie lede wees van die sewende Parlement nie. Hulle sê die fokus is op die party se groei vir 2026 se plaaslike verkiesings. Na hulle debuut in verlede week se verkiesing, wat 630-duisend stemme en ses setels opgelewer het, glo Beaumont hulle span kan ActionSA doeltreffend in die Parlement verteenwoordig. Hy sê hy is vol vertroue hulle kan Suid-Afrika regruk:
# Alle toegangsroetes na Citrusdal in die Wes-Kaap is gesluit na hewige oorstromings. ‘n Jaar gelede was daar soortgelyke omstandighede. Die munisipale bestuurder van die Cederberg-munisipaliteit, Gerrit Matthyse, beskyf die toestand as intens, en sê dit het ‘n reuse-uitwerking op die omliggende gemeenskappe en plase. Hy sê leerders word tuis gehou:
# Tennis: Die onttrekking van die wêreld nommer-een, Novak Djokovic, weens ‘n kniebesering, het veroorsaak dat die sewende gekeurde Casper Ruud van Noorweë reguit vorder na die halfeindronde van die Franse Ope. Daar is vandag nog een plek op die spel in die voorlaaste ronde, met die vierde gekeurde Alexander Zverev van Duitsland wat teen die elfde gekeurde Alex de Minaur speel. Zverev het vanjaar twee keer teen die Australiër verloor en verwag ‘n taai kragmeting:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-393-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-334-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-66-sent per vat.
# En, sekere kossoorte is goedkoper in Kaapstad as in Durban en Johannesburg. Dit is volgens ‘n verslag van die Pietermaritzburgse Economic Justice and Dignity Group vir Mei. Die groep het sy data by 47 supermarkte en 32 slaghuise in verskeie stede ingesamel. Kaapstad het die goedkoopste vleis, groente, kookolie en margarien. Appels en soetrissies kos oor die algemeen minder in Durban, terwyl Kaapstad se piesangs, spinasie en botterskorsies goedkoper is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….