Nuus 18:00
BULLETIN 3 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kieshof behou uitspraak voor oor die MK-party se leierskapsgeskil
# Cosatu steun Ramaphosa se leierskap van die sewende administrasie
# En Wêreld-atletiek stuur in 2026 ‘n globale kampioenskap van stapel
# Die Kieshof het uitspraak voorbehou in die MK-party se leierskapsgeskil. Die uitgeskopte stigter, Jabulani Khumalo, beskuldig oud-president Jacob Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, van vervalsing van sy handtekening op ‘n brief aan die Verkiesingskommissie om die party se leierskap te verander. Woedende ondersteuners het Khumalo ook aangeval buite die hof, wat in die Hooggeregshof in Johannesburg sit. Zuma se advokaat, Dali Mpofu, vra die hof moet die saak uitgooi:
Vroeër het Cosatu steun uitgespreek vir president Cyril Ramaphosa as leier van die sewende administrasie. Die vakbondfederasie glo ‘n nuwe regering is nodig om te fokus op die ANC se verkiesingsmanifes, ‘n grondwetlike demokrasie, die beskerming van werkersregte, om armoede te pak, ekonomiese groei te stimuleer en misdaad en korrupsie te beveg. Matthew Parks van Cosatu sê hulle sal steeds met die inkomende administrasie saamwerk om alle Suid-Afrikaners se lewens te verbeter:
Ramaphosa het intussen sy meegevoel uitgespreek met die gesinne in die Oos-Kaap wat getref is deur oorstromings in Nelson Mandelabaai, Buffalo City, Kariega en ander gebiede. Hy betreur die verlies aan lewens en die verwoesting wat gesaai is. Die president het die gesamentlike reddings- en herwinningspogings geloof, en vra mense om versigtig te wees en op weerwaarskuwings ag te slaan. Woordvoerder Vincent Magwenya moedig veiligheid aan tydens die winterseisoen:
# Atletiek: Wêreld-atletiek stuur in 2026 ‘n nuwe driedaagse globale kampioenskap aan die einde van die seisoen van stapel om die gaping tussen die Olimpiese Spele en die Wêreldkampioenskap te vul. Wêreld-atletiek se Ultimate-kampioenskap sal elke twee jaar gehou word. Dit wil die beste baan-en-veld-atlete lok, met die eerste byeenkoms van 11 tot 13 September 2026 in Boedapest, Hongarye. Gouemedaljewenners sal elk 2,8-miljoen-rand kry uit algehele prysgeld van 187-miljoen-rand, die meeste ooit in die sport. Tot 16 van die wêreld se top-gekeurde atlete sal aan elke item deelneem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-757-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-332-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-99-sent per vat.
# En, ‘n studie in 16 lande in Afrika suid van die Sahara toon hoër tabakbelasting kan rook onder jongmense aansienlik verlaag. Navorsers het bevind ‘n tien-persent styging in sigaretpryse kan rook onder die jeug met 11,5-persent tot 14,6-persent verminder, met meer as die helfte wat heeltemal sal ophou. Volgens die studie is jongmense meer geneig om te rook as hulle ouers dit doen. Die navorsers moedig Afrika-regerings aan om tabakbelasting te verhoog en vol te hou om openbare gesondheid te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….