Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 1 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie gee die versekering die uitslagbestuursproses is in ooreenstemming met die Kieswet
# Die jongste opdatering van die OVK-uitslagsentrum
# En, rugby: ‘n Drie in die doodsnikke in die VRK red die Stormers in sy kragmeting met die Leeus
# Die Verkiesingskommissie se voorsitter benadruk vir politieke partye en Suid-Afrikaners die uitslag-bestuursproses is die mees sensitiewe deel van die lewering van geloofwaardige verkiesingsuitslae. Mosotho Moepya het die media toegespreek en bevestig die stem-verwerkingssproses is meer as 99-persent voltooi. Hy gee die versekering die uitslagbestuursproses is intern ontwikkel om aan die Kieswet te voldoen, en dat alle stelsels deeglik getoets is:
Die ANC loop intussen steeds voor op nasionale vlak terwyl die Verkiesingskommissie byna al die uitslae afgehandel het. Voorlopige uitslae toon die ANC het 40,17-persent, gevolg deur die DA met 21,82-persent en die MK-party met 14,59-persent. In KwaZulu-Natal loop MK voor met 45,35-persent, gevolg deur die IVP met 18,07-persent en die ANC met 16,99-persent. In Gauteng het die ANC 34,75-persent, gevolg deur die DA op 27,54-persent en die EFF met 12,91-persent. Die DA behou sy meerderheid in die Wes-Kaap met 55,29-persent, gevolg deur die ANC met 19,55-persent en die Patriotic Alliance met 7,8-persent van die stemme.
President Cyril Ramaphosa het ondertussen die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette van 2023 onderteken, wat die tweepot-pensioenfondsstelsel ‘n werklikheid maak. Sy woordvoerder Vincent Magwenya sê die stelsel bied aan lede van aftreefondse toegang tot spaargeld sonder dat hulle hoef te bedank of pensioenfondse heeltemal te hoef uitbetaal. Hy beklemtoon, dit skep ‘n spaarkomponent wat toeganklik is in geval van finansiële nood en ‘n aftree-komponent wat tot aftrede bewaar word:
Ramaphosa het ook wetgewing onderteken wat verseker die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport voldoen aan die Wêreldkode teen Opkikkers. Sy woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die wysigings versterk die beleid teen opkikkers en die stryd teen dwelms in sport. Die instituut het nou duidelike magte as die nasionale organisasie teen opkikkers:
# Ten slotte, rugby: ‘n Drie in die doodsnikke teen die Leeus het die Stormers vanmiddag in Kaapstad ‘n bonuspunt-oorwinning besorg en die vyfde plek op die punteleer in die Verenigde Rugbykampioenskap. Hulle was met rustyd met nege punte agter en het vleuel, Angelo Davids, in die tweede helfte met ‘n rooikaart verloor, maar die Stormers het teruggeveg en ‘n oorwinning van 29-24 behaal. Vir die Leeus is die bonuspunt vir die nederlaag en agste op die punteleer waarskynlik genoeg om ‘n plek in die kwarteindronde te verseker, nadat Benetton gerieflik met Edinburgh klaargespeel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….