Nuus 18:00
BULLETIN 25 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis die onmiddellike openbaarmaking van Johannesburg se ondersoek na die bewerings teen raadslid Kunene
# Die Valke voer ‘n klopjag by City Power uit oor beweerde tenderbedrog van 500-miljoen-rand
# En Meta word gedwing om politieke advertensies in die EU te verbied
# Die DA het die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, versoek om die verslag oor die bewerings teen die burgemeesterskomiteelid vir Vervoer, Kenny Kunene van die Patriotic Alliance, openbaar te maak. Die party sê die bewerings teen Kunene sluit ernstige aantygings in van korrupsie en bande met die misdaad-wêreld. Belinda Kayser-Echeozonjoku van die DA sê die versuim om die verslag bekend te maak, sal bewys dat Morero geen werklike gesag het nie:
# Die Valke het ‘n klopjag uitgevoer by City Power se hoofkantoor in Johannesburg as deel van ‘n ondersoek na korrupsie van 500-miljoen-rand. Volgens News24 was die uitvoerende hoof van die maatskappy, Tshifularo Mashava, die hoofteiken van die ondersoek wat fokus op buitensporige tenders en betalings vir onvoltooide werk. Ondersoekers het op rekenaartoerusting en dokumente beslag gelê. Die klopjag volg op verskeie berigte van finansiële wanbestuur by City Power, wat ‘n verlies van drie-miljard-rand in die vorige boekjaar getoon het met ‘n negatiewe bankbalans van meer as 16-miljard-rand.
# Die Stad Kaapstad se 700 nuwe polisiebeamptes sal in die lente ontplooi word in al die wyke. Die beamptes is tans besig om hul opleiding te voltooi by die Observatory-kollege. Burgemeester Geordin Hill-Lewis sê die beamptes sal toegerus word met draagbare toestelle vir digitale wetstoepassings-koördinering en om oortredings aan te meld. Hy sê hulle sal ook baat by die lyfkameras waarmee die metropolisiediens toegerus word:
Nuus uit die buiteland:
# Die eienaar van Facebook en Instagram, Meta, sê hy sal gedwing word om van Oktober politieke advertensies op sy platforms in die Europese Unie te verbied oor nuwe regulasies. Die EU het regulasies strenger gemaak om groot IT-maatskappye vas te vat. Meta het daarteen beswaar gemaak met die steun van Amerika en president Donald Trump. Meta sê politieke en verkiesingsadvertensies, asook dié oor maatskaplike kwessies, sal nie langer toegelaat word nie. Die EU sê sy politieke advertensiereëls is bedoel om deursigtigheid in aanlyn advertensies te verbeter.
Nou sportnuus:
# Boks Suid-Afrika het die super-middelgewigkampioen Asemahle “The Predator” Wellem op voorsorgskorsing geplaas vir herhaaldelike oortreding van regulasies. Uitvoerende hoof Tsholofelo Lejaka sê Wellem hou aan om in Tanzanië te boks sonder toestemming, met ‘n volgende geveg wat môre teen Idowa Rasheed van Nigerië plaasvind. Hierdie is die derde voorval. Die titel is vakant verklaar nadat Wellem se lisensie opgeskort is. ‘n Tugverhoor word beplan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-541-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-337-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….