Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cele onderneem om die integriteit van die verkiesing te beskerm te midde van die aankondiging van uitslae
# Cosatu sê die demokrasie behoort aan alle Suid-Afrikaners
# En, sokker: Ondersteuners word gemaan om veilig te wees op die pad onderweg na Mbombela vir die Nedbankbeker-eindstryd
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, verseker wetstoepassing is voorbereid op moontlike ontwrigting na die verkiesing. Hy het by die uitslagsentrum in Midrand gesê die polisie is slaggereed om op te tree teen enige moontlike ontwrigting na die laaste uitslae. Cele het in die besonder na KwaZulu-Natal verwys as ‘n gebied wat met arendsoë dopgehou word weens dreigemente van ontwrigting. Hy verwag egter nie geweld na die verkiesing nie:
Voorlopige uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC was ‘n rukkie gelede voor met 41,7-persent nadat 71.3-persent van die stemdistrikte verwerk is. Die DA was op 22,44-persent met die MK-party op 12,38-persent. Die EFF en die IVP is onder die top vyf nasionaal, met onderskeidelik 9,47- en 3,16-persent.
Cosatu het almal bedank wat gaan stem het, en sê die demokrasie behoort aan alle Suid-Afrikaners, ongeag hulle politieke siening. Matthew Parks van Cosatu sê almal woon uiteindelik saam en dis noodsaaklik dat Suid-Afrikaners moet saam werk om ‘n welvarende nasie te wees. Parks sê die onwrikbare toewyding en professionaliteit van verskeie belanghebbendes en rolspelers was van kritieke belang om ‘n suksesvolle verkiesing te verseker:
# Indië se eerste minister, Narendra Modi, het vandag op rotse langs die kus gemediteer as ‘n laaste beroep op sy Hindoe-kiesersbasis, te midde van die land se marathon-verkiesing wat binnekort eindig. Hy is oral gewild en hy sal na verwagting maklik ‘n derde termyn beklink, hoofsaaklik weens sy beeld as ‘n aggressiewe voorstander van die grootste godsdiens in die land. Modi het tydens sy dekade as eerste minister gereeld gemediteer, asook feeste bygewoon en tempels besoek om sy godsdienstige status te bevestig, ten spyte van Indië se sekulêre grondwet.
# Sokker: Mpumalanga se Departement van Gemeenskapsveiligheid, Sekerheid en Skakeling versoek diegene wat na Mbombela reis vir môre se eindstryd van die Nedbankbekerkompetisie tussen Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates om versigtig te wees en verkeersreëls te gehoorsaam. Woordvoerder Moeti Mmusi sê toerisme in en rondom die stad sal ‘n hupstoot kry met diegene wat die uitverkoopte skouspel gaan bywoon. Mmusi glo besoekers sal veral geld bestee aan verblyf en vermaak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-845-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….