Nuus 18:00
BULLETIN 30 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank hou die terugkoopkoers onveranderd op 8,25-persent
# Die jurie beraadslaag verder in Trump se swyggeld-verhoor
# En, tennis: Sabalenka en Medvedev is deur na die derde ronde van die Franse Ope
# Die Monetêre Beleidskomitee het die terugkoopkoers onveranderd gehou op 8,25-persent, wat dit op dieselfde vlak hou sedert Mei verlede jaar. Die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, sê die voorspelling dui op matige groeiversnelling tesame met geleidelike inflasie-bestendigheid in die komende jare. Hy sê die komitee se besluite bly afhanklik van data en is daartoe verbind om inflasie te anker tot die middelpunt van die teikenvlak van 3- tot 6-persent. Hy bepleit maatreëls om ekonomiese toestande te verbeter:
# Voorlopige uitslae van die Verkiesingskommissie toon die ANC was ‘n rukkie gelede voor met 43,41-persent. Die DA was op 24,7-persent met die EFF op 8,86-persent. Die MK-party en die Patriotic Alliance is onder die top vyf nasionaal, met onderskeidelik 8,14- en 4,06-persent.
Intussen sê Hope4SA vanjaar se verkiesing het meer daarop gefokus om harte te wen as om stemme te kry. Die partysekretaris, Dianne Rogers, het dit by die uitslagsentrum in Midrand beklemtoon en meen dit ‘n kan waterskeiding vir die party wees. Rogers sê sy is trots op die party wat self befonds is. Sy glo die uitslae dui op ‘n groot verskuiwing in die toekoms:
# Jurielede keer vandag terug vir ‘n tweede dag se beraadslagings in Donald Trump se strafregtelike verhoor terwyl die Republikeinse presidentskandidaat en die land wag vir ‘n besluit wat November se verkiesing kan ontwrig. Na weke se getuienis van meer as 20 getuies oor Trump se beweerde verdoeseling van ‘n moontlike polities-skadelike ontmoeting met ‘n pornografie-ster, is die kollig nou op die twaalf jurielede in New York. Hulle identiteite word geheim gehou vir hulle eie beskerming. Hulle werk agter geslote deure in ‘n afsonderlike vertrek.
# Tennis: Aryna Sabalenka van Belarus het die derde ronde van die Franse Ope ingestorm met ‘n oorwinning van 6-2, 6-2 binne 62-minute oor die Japanse kwalifiseerder Moyuka Uchijima. Die tweemalige Australiese Ope-kampioen kom volgende te staan teen die voormalige wêreld nommer twee-speler, Paula Badosa van Spanje, of Yulia Putintseva van Kazakstan, vir ‘n plek onder die laaste 16. In die mansafdeling is Daniil Medvedev van Rusland ook deur na die derde ronde nadat sy teenstander, Miomir Kecmanovic van Serwië, die handdoek ingegooi het toe hy 6-1, 5-stroop agter was.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 20-rand-14-sent teen die euro en 23-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-605-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-350-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….