Nuus 18:00
BULLETIN 29 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê hy is trots op Suid-Afrika se vreedsame demokratiese verkiesing
# Kenners voorspel rentekoerse kan teen September daal
# En, Algerië stel ‘n VN-resolusie voor vir ‘n Gaza-skietstilstand
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê Suid-Afrikaners moet trots wees om aan die demokratiese verkiesingsproses deel te neem. Mashatile het, nadat hy in Gerhardsville, Tshwane gestem het, ‘n oproep op kiesers gedoen om die geskiedkundige geleentheid aan te gryp en vir hul voorkeurparty te gaan stem. Hy het die grootliks vreedsame proses verwelkom en gesê almal het die demokratiese reg om hul stem uit te bring:
Intussen sê die DA se premierskandidaat vir die Wes-Kaap, Alan Winde, duisende kiesers het opgedaag om die party te ondersteun en om die provinsie onder sy leierskap te hou. Hy glo talle stem ook om ‘n ANC-, EFF- en Patriotic Front-alliansie te voorkom, want hulle is bang dit kan lei tot bestuurskwessies en diensleweringsmislukkings. Volgens Winde het die DA se veldtog wye steun van inwoners regoor die provinsie gekry:
# Kenners voorspel rentekoerse kan teen September verlaag word. ‘n Onafhanklike ekonoom, Elize Kruger, sê daar is ‘n verslapping in verbruikersinflasie die afgelope paar maande. Sy glo die land beweeg geruime tyd in die rigting. Kruger verwag egter die Reserwebank sal die koers vir eers onveranderd laat:
# Algerië het ‘n voorstel gedoen vir ‘n konsep-resolusie van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad wat ‘n onmiddellike wapenstilstand eis in die Gaza-strook. Die resolusie eis ook die vrylating van álle gyselaars wat deur Hamas aangehou word, en ‘n onmiddellike staking van sy militêre offensief in Rafah. Die Algerynse ambassadeur by die VN, Amar Bendjama, sê die doel is om die moord in Rafah te stop ná Sondag se aanval op ‘n kamp vir ontheemdes waarin minstens 45 mense omgekom het. Die raad hou weer vandag ‘n sitting oor die Israel-Palestyne-konflik.
# Tennis: Die Franse Ope kampioen van 1983, Yannick Noah, gaan die Sweedse legende, Bjorn Borg as kaptein van die Europese span vir die 2025 Laver-beker vervang. Die 64-jarige Fransman gaan die Europese span by die jaarlikse byeenkoms teen ‘n Wêreldspan lei, wat vir die eerste keer deur die agtmalige Grand Slam-kampioen, Andre Agassi, gelei word. Agassi vervang Borg se groot teenstander, John McEnroe. Borg en McEnroe was kapteins sedert die begin van die kompetisie in 2017.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-719-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….