Nuus 18:00
BULLETIN 27 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA beskuldig Ramaphosa van misbruik van sy presidentskap vir stemwerwing
# Olyfolie-pryse kan die hoogte inskiet weens ‘n tekort
# En, rugby: Die Blitsbokke hoop op oorheersing in Spanje in die eerste Sewes Grand Finale-naweek ooit
# Die DA stel regstappe in teen president Cyril Ramaphosa vir die beweerde verbreking van die Verkiesingsgedragskode. Die party beweer Ramaphosa het sy posisie misbruik deur ‘n nasionale toespraak op die SABC te gebruik vir stemwerwing, wat die ANC onregverdige lugtyd gegee het. Die party betoog sulke manipulasie ondermyn die demokrasie, en wil Ramaphosa in die Kieshof aanspreeklik hou. Die leier van die DA, John Steenhuisen, moedig kiesers aan om deel te neem aan die verkiesing om die ANC se straffeloosheid te beëindig en die integriteit van Suid-Afrika se demokrasie te herstel.
In nog ‘n verwikkeling is die IVP woedend oor die Sentrale Energiefonds se skielike aankoop van die ru-olieraffinadery SAPREF in Durban van Shell en BP. Die party kritiseer die gebrek aan deursigtigheid en dink dit kan ‘n foefie wees om op die nippertjie stemme te werf. Narend Singh van die IVP lig omgewingskommer uit en sê gesondheidstudies het gewys op ‘n hoë kanker-risiko in nabygeleë gemeenskappe. Singh merk berigte op van ‘n aankoopprys van een rand, en sê dit wek kommer oor verskuilde koste vir belastingbetalers:
# Die Ackerman-familie tree uit as meerderheidstem-aandeelhouers van Pick n Pay te midde van ‘n groot verandering. Die voorsitter van die raad, Gareth Ackerman, het aangekondig hy tree volgende jaar af na 14 jaar in die rol en 40 jaar by die maatskappy. Hy bly op die raad. Die nuwe uitvoerende hoof, Sean Summers, wil die kernsupermarksaak laat herleef, wat die afgelope dekade sukkel met winsafname en verlore markaandeel teen mededingers.
# Die prys van olyfolie sal na verwagting styg, met ‘n liter wat tot 300-rand kan kos. Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Olyfbedryfvereniging, Wendy Petersen, noem droogte en uiterste hitte in Spanje, Griekeland en Italië as groot bydraende faktor. Petersen sê produksie het wêreldwyd gedaal, wat die vraag laat toeneem, met berigte uit die Europese Unie wat dui op ‘n prysstyging van 75-persent oor drie jaar. Petersen merk op Suid-Afrika se produksie van 1,6-miljoen liter kan die plaaslike mark bevoordeel, maar waarsku oor verminderde olyfolie-invoere weens hoë wêreldpryse.
# Rugby: Die Grand Finale van die Sewesreeks word die naweek in Spanje gespeel. Net die voorste agt mans- en vrouespanne ding mee in Madrid. Argentinië en Nieu-Seeland was na sewe rondes die mans- en vroueligawenners, voor die nuwe alleenstaantoernooi in die Spaanse hoofstad. Die Blitsbokke kom in hulle groepswedstryde te staan teen Ierland, Fidji en Nieu-Seeland. Afrigter Phillip Snyman sê daar sal nie maklike wedstryde wees nie:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-963-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….