Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Internasionale Geregshof beveel Israel om sy aanval in Rafah onmiddellik te staak
# Ramaphosa sê die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie is ‘n permanente afdeling in die NVG
# En, krieket: Die Proteas wil die bordjies verhang teen die Windies
# Die Internasionale Geregshof het Israel beveel om sy militêre aanval in Rafah te staak weens onvoldoende ontruimingspogings om burgerlikes te beskerm. Dit volg ná Suid-Afrika se beroep vir strenger maatreëls. Die hof se bevel volg nadat die Internasionale Strafhof lasbriewe vir inhegtenisnemings vir Israelse en Hamas-leiers aangevra het weens beweerde oorlogsmisdade. Die Internasionale Geregshof se president, regter Nawaf Salam, sê Israel moet onbelemmerde toegang tot Gaza verseker vir enige ondersoek-liggaam van die Verenigde Nasies wat bewerings van volksmoord ondersoek:
# President Cyril Ramaphosa het bekendgemaak die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie is ‘n permanente afdeling binne die Nasionale Vervolgingsgesag. Hy het in Pretoria met die media gepraat tydens die ondertekening van die Wysigingswet op die Nasionale Vervolgingsgesag. Ramaphosa het die direktoraat se vordering geloof om 39 sake van staatskaping voor die hof te bring, en die bewaring van staatskapingsbates ter waarde van meer as 14-miljard-rand terwyl meer as ses-miljard-rand teruggekry is:
Ramaphosa het intussen sy meegevoel betuig met die dood van die gewese parlementslid en voorsitter van die DA se federale raad, James Selfe. Hy is Dinsdag na ‘n lang siekbed oorlede in die ouderdom van 68. Selfe was baie jare lank ‘n parlementslid. Ramaphosa het hom geloof vir sy toewyding tot die demokrasie, sy verbintenis om misdaad te beveg en sy beleefde benadering teenoor politieke opposisie. Hy het Selfe se bydraes tot wetgewende hervormings erken en beskryf hom as ‘n passievolle en waardige voorstander van liberalisme.
# Die internet-soekreus, Google, belê in die Umoja-ondersese kabel wat Suid-Afrika en verskeie Oos-Afrika-lande met Australië sal verbind. Dis daarop gemik om die lande teen toekomstige internet-onderbrekings te beskerm deur noodsaaklike vermoë en ’n nuwe verbindingsroete. Die kabel sal oor ‘n afstand van tien-duisend kilometer op die bodem van die Indiese Oseaan loop en die bestaande infrastruktuurbeleggings van Google en Meta versterk. Die soeklig het onlangs geval op die noodsaaklikheid van rugsteunstelsels nadat kabels gebreek het. Die Umoja-kabel sal voor die einde van die jaar in bedryf wees.
# Krieket: Die Proteas kan dalk ‘n ommeswaai maak in hulle reeks van drie T20-wedstryde teen die Windies, met die oorblywende twee wedstryde wat hierdie naweek gespeel word. Suid-Afrika het die eerste wedstryd in Jamaika met 28 lopies verloor ten spyte van ‘n loopbaan-beste 87 deur Reeza Hendricks. Die T20-Wêreldbekertoernooi vind volgende maand in Amerika en die Windies plaas en Hendricks sê die Proteas sal vinnig by die omstandighede moet aanpas:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-239-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-337-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….