Nuus 18:00
BULLETIN 23 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu vra kiesers om sosialistiese alternatiewe te oorweeg
# Die Hooggeregshof beveel ‘n Gautengse departement om vinnig welsynsorganisasies te betaal
# En, tennis: Nadal speel teen Zverev in die eerste ronde van sy finale Franse Ope
# Saftu moedig kiesers aan om sosialistiese alternatiewe in die verkiesing te oorweeg. Die vakbondfederasie noem die ergerworderde maatskaplike krisis met kwessies soos politieke moorde, korrupsie en hoë vlakke van werkloosheid. Hulle kritiseer die ANC-regering se aanvaarding van ‘n neoliberale beleid, wat hulle glo gelei het tot de-industrialisasie en werksverliese. Terwyl hy stembeginsels vir werkers uiteensit, vra Saftu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, kiesers om partye te steun wat sosialisme en gelykheid voorstaan:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling opdrag gegee om vinnig organisasies sonder winsoogmerk te betaal. Die Gauteng Care Crisis Committee het die hof dringend genader vir ‘n bevel om te verseker die departement handel die proses af wat maatskaplike dienste verskaf aan kwesbare mense. Die organisasie beskryf die proses as chaoties. Regter Ingrid Opperman het beslis die departement moet teen môre sy befondsingsbeoordelings afhandel en diensleweringsooreenkomste teen volgende Donderdag aan suksesvolle aansoekers uitreik.
# Salarisse sal na verwagting in 2025 aansienlik verbeter en broodnodige finansiële verligting en bestendigheid bring vir werknemers in verskeie sektore. Verminderde beurtkrag het die sake-omgewing verbeter, wat moontlik inflasieverwante salarisverhogings sal meebring. Data van BankservAfrica toon die normale gemiddelde betaling het in April gedaal tot 15-duisend-374-rand, maar is steeds 5,6-persent hoër as ‘n jaar gelede. Die ekonoom Elize Kruger noem ‘n nominale verbetering van ses-persent in salarisse vroeg dié jaar, vergeleke met die vorige jaar. Privaat pensioene het ook op ‘n jaargrondslag ‘n nominale verhoging van 6,6-persent beleef.
# Tennis: Rafael Nadal is teen die wêreld nommer vier, Alexander Zverev van Duitsland, geloot in ‘n opwindende eerste wedstryd van sy finale Franse Ope. Die Spanjaard het die toernooi ‘n rekord 14 keer gewen, maar is vanjaar ongekeur nadat beserings hom tot 276 op die wêreldranglys laat terugsak het. Hy en Zverev het in 2022 in die halfeindronde ontmoet toe die Duitser moes handdoek ingooi weens ‘n ernstige enkelbesering. Die 27-jarige Zverev het pas die Italiaanse Ope gewen. Die Franse Ope begin Sondag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-117-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-349-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-44-sent per vat.
# En, president Cyril Ramaphosa het oorlede regter Yvonne Mokgoro as ‘n ikoon en ‘n kampvegter van menseregte en geslagsgeregtigheid beskryf. Ramaphosa het aan roubeklaers in die Bryanston Katolieke Kerk in Johannesburg gesê Mokgoro was ‘n baanbreker regsgeleerde en die eerste swart vrou wat in 1994 in die Konstitusionele Hof aangestel is. Ramaphosa sê haar reis van studente-aktivis tot gewaardeerde regter simboliseer veerkragtigheid en beginselvaste aktivisme. Hy eer haar nalatenskap as ‘n bewys van haar onwrikbare verbintenis tot geregtigheid en gelykheid:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….