Nuus 18:00
BULLETIN 24 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kleuterskool-onderwyseres Amber Lee Hughes erken sy’t haar eks se dogter vermoor
# Ramaphosa is vol vertroue oor positiewe gevolge van Amerikaanse handelsgesprekke
# En rugby: Die Bulle kies ‘n ervare span vir die Curriebekerwedstryd teen Westelike Provinsie
# Die Gautengse kleuterskool-onderwyseres Amber Lee Hughes het erken dat sy haar gewese kêrel se dogtertjie verdrink het. Haar nuwe regspan het bykomende voorleggings gedoen in die Hooggeregshof in Johannesburg. Hughes het erken dat sy die vierjarige Nada-Jane Challita in 2023 verdrink het in haar huis in Glenvista, Johannesburg, na ‘n rusie oor die pa se beweerde ontrouheid. Phindi Mdonondwane van die Nasionale Vervolgingsgesag sê sy verwys na ‘n persoonlikheids-afwyking, maar was ten volle bewus van haar optrede. Hughes het die verkragting-aanklag ontken. Die saak is tot 7 Augustus uitgestel vir slotbetoë.
# President Cyril Ramaphosa sê die onlangse handelstariewe wat Amerika aangekondig het, dwing Suid-Afrikaanse ondernemings om nuwe markte te verken. Ramaphosa het tydens die bekendstelling van die BMW X3-inprop-hibried in Tshwane gesê dit bly onduidelik presies waarom die heffings ingestel is. Hy vertrou egter dat voortgesette gesprekke tot positiewe gevolge en ‘n terugkeer na sterk handelsbetrekkinge sal lei:
Ramaphosa sê intussen die regering is besig om teikenaansporings te finaliseer vir die bevordering van elektriese voertuigproduksie, batterylokalisering, en skoon beweeglikheids-vernuwing in Suid-Afrika. Hy sê die maatreëls sal die oorskakeling na ‘n lae koolstof-ekonomie ondersteun en nuwe geleenthede vir plaaslike vervaardiging ontsluit. Ramaphosa het ‘n beroep gedoen op vervaardigers om in Suid-Afrika se groen-ekonomie te belê:
# Rugby: Die Blou Bulle het ‘n ervare opdrafspan gekies vir Saterdag se Curriebeker-openingswedstryd teen Westelike Provinsie in Kaapstad. Verskeie spelers het reeds in die Verenigde Rugbykampioenskap gespeel. Hulle sluit in die heelagter Henry Immelman, die senter Stedman Gans en die vleuel Stravino Jacobs. Die ervare Boeta Chamberlain is die losskakel met Zak Burger op skrumskakel, en die Springbok Marvin Orie en Sintu Manjezi die slotte. Kaptein Nama Xaba, Jeandré Rudolph en Junior Pokomela lyk na ‘n indrukwekkende groep losvoorspelers. Die wedstryd skop die middag net na vyf af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-60-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-en-40-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-372-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-52-sent per vat.
# En laastens, navorsers van die Universiteit van Wes-Kaapland het bevind metamfetamien, in Suid-Afrika algemeen bekend as tik, kan ernstige skade in manlike vrugbaarheid veroorsaak, selfs met kortstondige gebruik. David Fisher het die grensverskuiwende studie gelei. Een van die navorsers, Chontrelle Willemse, sê hulle het bevind die skadelike uitwerking op manlike vrugbaarheid vind binne 24 uur na gebruik plaas en het oor 96 uur langdurige gevolge:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….