Nuus 18:00
BULLETIN 16 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra aanspreeklikheid in die gebou-ineenstortingstragedie in George
# Die Basiese Onderwysdepartement verwelkom die deurvoer van die BELA-wysigingswetsontwerp
# En, rugby: Roos verbind hom langtermyn tot die Stormers
# President Cyril Ramaphosa vra aanspreeklikheid vir verlede week se tragedie in George toe ‘n gebou ineengestort het. Daar was 81 mense op die bouperseel toe die gebou ingetuimel het. Minstens 33 mense is dood, twaalf beseerdes is nog in die hospitaal en 19 mense word nog vermis. Ramaphosa het die families van die slagoffers toegespreek en gepleit vir geduld met die ondersoek. Hy prys die rampbestuurspan se toewyding in die voortgesette reddings- en herwinningspoging:
# Die Departement van Basiese Onderwys verwelkom die Nasionale Vergadering se goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette. Dis deurgevoer met 223 stemme ten gunste daarvan en 78 daarteen. Minister Angie Motshekga loof dit as ‘n waterskeidingsoomblik. Sy sê die wysigingswetsontwerp gee aandag aan kritieke uitdagings en harmoniseer skooltaalbeleid met provinsiale riglyne, terwyl dit die grondwetlike reg tot onderwys behou:
Intussen sê die Wes-Kaapse regering hy is sterk gekant teen die aanvaarding van die wetsontwerp. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, noem kommer oor die uitkalwing van beheerliggame se magte, die sentralisasie van gesag weg van provinsies af, verwerkingsfoute en finansiële gevolge:
# Die ekonoon Raymond Parsons sê werkloosheid sal waarskynlik jare lank voortduur in Suid-Afrika. Die land se werkloosheidskoers het in die eerste kwartaal van vanjaar tot 32,9-persent gestyg. Parsons gee die swak ekonomie en seisoenale faktore die skuld. Hy sê die voortslepende hoë werkloosheidskoers hou verband met die land se minimale groei in bruto binnelandse produk. Volgens Parsons onderstreep dit die dringende behoefte aan werksryke groeistrategieë om Suid-Afrika se werkloosheidskoers teen te werk.
# Rugby: Die Springbok-losvoorspeler Evan Roos het ‘n kontrakverlenging onderteken waarvolgens hy tot minstens 2027 vir die Stormers sal speel. Die dinamiese Roos is die jongste speler wat bevestig het hy bly in Kaapstad, na vorige soortgelyke kontrakverlengings vir Sacha Feinberg-Mngomezulu, Dan du Plessis en Ruben van Heerden. Die Stormers se direkteur van rugby, John Dobson sê om ‘n speler van Roos se gehalte te voeg by die groeiende lys van langtermynverlengings, is nog ‘n teken van vertroue in die rigting waarin die groep beweeg.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-137-dollar-57-sent. Die prys van goud is twee-duisend-374-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….