Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en Israel kruis weer swaarde in die Internasionale Geregshof
# Die dodetal ná die ramp in George styg tot 33
# En, gholf: Wêreld nommer een Scottie Scheffler speel sy eerste major-toernooi sedert hy pa geword het
# Suid-Afrika en Israel kruis dié week weer swaarde in die Internasionale Geregshof in Den Haag. Die Suid-Afrikaanse regering wil verseker nooduitsprake word teen Israel uitgevaardig om sy aanval in Rafah in die Gaza-strook stop te sit. Volgens ‘n verklaring van die hof sal Suid-Afrika se regsverteenwoordigers hulle betoë Donderdag lewer, gevolg deur die Israelse span die volgende dag. Pretoria het die hof vroeër die maand versoek om voorlopige maatreëls oor die inval in Rafah uit te reik, en gevra die hof moet Israel beveel om te onttrek en sy militêre aanslag te staak.
# Die dodetal in die voortgesette reddings- en hersteloperasie ná die ineenstorting van ‘n gebou in George het tot 33 gestyg, met die Forensiese Patologiediens wat die identifikasie van ses slagoffers bevestig het. Negentien mense is nog nie gevind nie en 12 is in die hospitaal. Reddingswerkers en ander belanghebbendes het tydens die operasie, tans in sy agtste dag, 193-uur aan reddingswerk toegewy. ‘n Kulturele gebedsdiens wat deur ‘n familielid van een van die slagoffers aangevra is, word môre in die Suid-Kaapse stad gehou.
# Die South African Health Professionals Collaboration berei ‘n regsgeskil voor teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering. President Cyril Ramaphosa gaan dit môre onderteken. Die organisasie, wat meer as 25-duisend gesondheidsorgwerkers verteenwoordig, is teleurgesteld oor voorleggings wat geïgnoreer is en bekommerd oor die wetsontwerp se grondwetlikheid en uitwerking op pasiëntsorg. Woordvoerder, Simon Strachan, pleit vir ‘n volhoubare en pasiënt-gesentreerde gesondheidsorgstelsel:
# Die Verkiesingskommissie het meer as 1,6-miljoen spesiale stemme vir die komende verkiesing goedgekeur. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, verduidelik een-miljoen spesiale stemme word by stembusse uitgebring en 624-duisend kiesers sal tuis of in hulle tehuise besoek word. Gauteng het die meeste, met 335-duisend geregistreerde spesiale kiesers, gevolg deur KwaZulu-Natal met 320-duisend. Mamabolo bevestig die spesiale stemmery vind op 27 en 28 Mei plaas, vanaf 9-uur die oggend tot 5-uur die middag:
# Gholf: Die wêreld nommer een, Scottie Scheffler, begin die derde major-toernooi van die seisoen as ‘n splinternuwe pa. Volgens die 27-jarige Amerikaner is hy so voorbereid as wat hy kan wees vir dié week se Amerikaanse PGA-kampioenskap, nadat hy en sy vrou hulle eersteling verwelkom het. Die tweemalige wenner van die Meesterstoernooi sê hy het tyd bestee op die oefenbof van die Valhalla-klub in Louisville, Kentucky, waar hy hoop om die derde major-titel van sy loopbaan in te palm:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-93-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-211-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-349-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….