Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK vra die Konstitusionele Hof om die besluit oor Zuma te versnel weens die komende verkiesing
# Minister Motshekga vra ‘n dialoog om selfdood onder leerders te voorkom
# En, krieket: Hoofafrigter Hilton Moreeng verlaat die Protea-vroue na 11 jaar
# Die Verkiesingskommissie vra die Konstitusionele Hof om dringend uitspraak te lewer oor die leier van die MK-party, Jacob Zuma, se geskiktheid om in die Parlement te dien, en wys daarop die verkiesing is om die draai. Die OVK waarsku oor ‘n moontlike geskil oor die uitslae as Zuma ondanks diskwalifisering sou staan, wat die grondwetlike orde kan ondermyn. Die OVK se regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, betoog die Verkiesingshof het fouteer deur Zuma se kandidatuur te aanvaar, want die OVK is verplig om kandidate se geskiktheid vir die Nasionale Vergadering te bepaal:
# Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het gevra vir meer optrede om tienerselfdood te voorkom. Die minister het met leerders by Hoërskool Eqinisweni gepraat en haar medelye uitgespreek nadat vier leerders hulle eie lewens geneem het. Motshekga het leerders aangemoedig om oor hul uitdagings te praat en radikale maatreëls soos selfdood te vermy, met die klem op veerkragtigheid. Sy sê psigo-maatskaplike kwessies, insluitend depressie, groepsdruk en dwelmmisbruik, moet aandag kry.
# Die Stad Kaapstad vra die Departement van Binnelandse Sake om dringend duidelikheid te gee oor die status van die langverwagte afstandswerk-visum. Volgens die stad se navorsing bestee werkende toeriste tot 50-duisend-rand tydens hul verblyf in Kaapstad. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê die visum moes lankal ingestel gewees het:
# Krieket: Hilton Moreeng het sy pos as hoofafrigter van die Protea-vroue na langer as ‘n dekade ontruim. Hy het in 2013 oorgeneem en het die span verlede jaar gevoer tot die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika, asook twee Eendag Wêreldbeker-halfeindstryde en twee T20 Wêreldbeker-halfeindstryde. Volgens Moreeng was dit ‘n voorreg om so ‘n groep talentvolle sportvroue te lei. Sy hulp-afrigter, Dillon du Preez, sal tydelik by hom oorneem totdat ‘n nuwe voltydse afrigter aangewys word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-316-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-367-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-1-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Studie deur Statistieke Suid-Afrika het uitgelig hoe inkomste-ongelykheid in Suid-Afrika aangevuur word deur faktore soos ouderdom, ras, geslag en opvoeding. Die ontleding, gegrond op data van die Kwartaallikse Arbeidsmagopname, toon demografies skerp teenstrydighede in verdienste. Ouer wit mans met tersiêre kwalifikasies, veral in Gauteng, is geneig om die hoogste inkomste te verdien. Intussen worstel jong swart vroue met laer vlakke van onderwys, veral in Limpopo en die Oos-Kaap, die meeste met finansiële uitdagings en word onder die armste groepe in die land geplaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….