Nuus 18:00
BULLETIN 7 Augustus 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK publiseer die verkiesingsrooster vir die 2026-plaaslike regeringsverkiesing
# AfriForum waarsku die Gaswetsontwerp hou risiko’s in vir beleggings en eiendomsregte
# En, rugby, omvattende veranderings is aan die Argentynse span gemaak vir die kragmeting teen die Springbokke
# Die Verkiesingskommissie het die amptelike verkiesingsrooster vir vanjaar se plaaslike regeringsverkiesing gepubliseer, ná die proklamasie van 4 November as verkiesingsdag. Die rooster dui die begin van die formele verkiesingsproses aan, met kandidaat-benoemings wat onmiddellik open en op 28 Augustus sluit. Die OVK se voorsitter, Mosotho Moepya, het op ‘n nuuskonferensie gesê die rooster gee duidelike sperdatums om te verseker die verkiesing is vry, regverdig en deursigtig.
# AfriForum het gewaarsku die voorgestelde Gaswetsontwerp kan mededinging, beleggingsekerheid en eiendomsregte ondermyn indien dit in sy huidige vorm aanvaar word. Die organisasie sê die wetgewing gee die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika oormatige magte oor lisensiëring, die bepaling van die gasprys en infrastruktuur. Lambert de Klerk van AfriForum dring daarop aan die regering moet deursigtige regulering en sterker beskerming van eiendomsregte verseker:
# Die Stad Kaapstad het sy verbintenis herbevestig om in vroueleiers te belê as ‘n manier om openbare dienslewering te versterk. Die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe Dienste, Theresa Uys, het tydens die tweede jaarlikse konferensie vir Vroue in die Regering gesê inklusiewe leierskap, digitale innovering en vaardigheidsontwikkeling is die sleutel tot die verbetering van dienslewering. Uys sê die stad gaan voort om vroue deur middel van beurse, internskappe, loopbaanontwikkeling en vaardigheidsprogramme te ondersteun om ‘n sterker en meer inklusiewe openbare sektor te ontwikkel.
# Owerhede in Slowakye het ‘n reusebom uit die Tweede Wêreldoorlog veilig vernietig. Die bom is in die Donau-rivier ontdek en vernietig ná ‘n omvangryke operasie deur die polisie, bomverwyderingskundiges en nooddienste. Die lewendige bom is tydens roetinewerk naby die rivier gevind, waarna omliggende gebiede as ‘n voorsorgmaatreël ontruim is. Spesialiste het daarna ‘n beheerde ontploffing uitgevoer om die gevaar veilig uit te skakel. Geen beserings is aangemeld nie. Amptenare sê die voorval beklemtoon die voortdurende gevaar van lewendige plofstof. Sulke toestelle word steeds af en toe in Europa ontdek, meer as 80 jaar ná die oorlog.
# Rugby: Die Argentynse afrigter Felipe Contepomi het 13 veranderinge aan sy span aangebring vir Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen die Springbokke in Buenos Aires. Hy het die voorspelers en agterlyn verander met die span wat hoop op ‘n sterk vertoning teen die wêreldkampioen na sy onlangse nederlaag teen Engeland. Suid-Afrika wil momentum bou voor die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks teen Nieu-Seeland. Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus het die belangrikheid van die botsing beklemtoon. Hy sê dit bied waardevolle speeltyd aan terugkerende spelers en help die span help om kombinasies te verskerp voor die veeleisende toer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 18-rand-68-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-969-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-339-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 85-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….