Nuus 18:00
BULLETIN 13 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK ontvang meer as een-duisend-700 klagtes oor verkiesingsuitslae
# Die EFF en ALPA se poging misluk om ‘n besluit oor die Phala Phala-getuienisleier om te keer
# En, AfriForum verwelkom die besluit om die borgtogaansoek in die Donovan Marx-saak te laat vaar
# Die Verkiesingskommissie sê hy het ná die plaaslikeregeringsverkiesing meer as een-duisend-700 besware ontvang. Slegs 433 kwalifiseer egter ingevolge die wet as amptelike besware. Die OVK het 252 reeds afgehandel, met drie wat gehandhaaf en 249 wat verwerp is. Die OVK se voorsitter, Mosotho Moepya, sê die besware hou hoofsaaklik verband met beweerde onreëlmatighede tydens die telproses, foute met die vaslegging van uitslae, spesiale stemme en ‘n hoë aantal ongeldige stembriewe:
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het teen die EFF en die African Legal Practitioners Association beslis in hul poging om die verwydering van advokaat Griffiths Madonsela as getuienisleier van die Phala Phala-ampsklag-ondersoek om te keer. Madonsela is verwyder na kommer oor ‘n moontlike botsing van belange, rakende regs-raadpleging wat hy voorheen in hierdie verband aan die ANC verskaf het. Regter Chantel Fortuin het gelas die ampsklag-komitee se besluit om hom te verwyder bly van krag:
# AfriForum verwelkom die besluit van die vier beskuldigdes in die aanval op ‘n boer van Noordwes, Donovan Marx, om hul borgtogaansoeke te laat vaar. Hulle word aangekla van poging tot moord, roof en vuurwapenverwante misdrywe. Die saak is tot 15 Februarie uitgestel sodat die staat ballistiese verslae kan bekom. Marx is verlede maand geskiet, gesteek en albei sy ore is afgesny. Jacques Broodryk van AfriForum eis geregtigheid:
# Verskeie skoonheidskoninginne uit Afrika kan dalk die Mej Heelal-kompetisie in Puerto Rico misloop weens Amerikaanse visum-beperkings. Mej Zimbabwe, die 34-jarige Roseanna Hall, is in Suid-Afrika gestrand terwyl pogings voortgaan om haar reisdokumente te verseker. Zambië se deelnemer, Pamela Mubanga, moes reeds onttrek weens die beperkings en Suid-Soedan is ook onseker oor sy verteenwoordiger se deelname. Die Amerikaanse maatreëls, wat in Januarie ingestel is, beperk visum-toegang vir burgers van 19 lande gedeeltelik, insluitend Zimbabwe en Zambië. Die eindronde vind op 24 November in San Juan plaas.
# Krieket: Australië het Engeland met sewe paaltjies in die eerste eendagwedstryd in Perth geklop, met die nuweling Mahli Beardman wat die besoekers se kolwers afgeransel het. Die 21-jarige snelbouler het ses paaltjies vir 24 lopies geneem en daarmee bygedra om Engeland vir slegs 131 lopies in hul 34ste boulbeurt uit te boul. Dit was die beste boulprestasie deur ‘n Australiese nuweling in ‘n eendag-wedstryd. Mitchell Marsh het daarna ‘die jaagtog na die teiken gelei met ‘n blitsige 50 lopies van 30 balle aangeteken, en Australië het die teiken in hul 24ste boulbeurt bereik. Die reeks van drie wedstryde word Sondag in Adelaide voortgesit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-361-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-883-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 99-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….