Nuus 18:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile sê die afwesigheid van beurtkrag is nie ‘n verkiesingstrategie nie
# Die DA se Red SA-toer in die Oos-Kaap fokus op veiligheidskwessies
# En, rugby: ‘n Kwarteindstryd is die doelwit van die Springbok-vroue Sewes in Singapoer
# Adjunkpresident Paul Mashatile het ontken beurtkrag word gebruik as ‘n verkiesingstaktiek. Hy het afgevaardigdes by die African United Business Confederation in Sandton toegespreek en Suid-Afrikaners van verbeterde bedrywighede verseker, en die afwesigheid van beurtkrag toegeskryf aan ‘n gesamentlike energie-aksieplan. Mashatile het die regering se verbintenis bevestig om Eskom se prestasie te verbeter en privaat belegging in energieopwekking moontlik te maak, en die belangrikheid van volhoubare energie-oplossings vir ondernemings en huishoudings beklemtoon:
# Die DA-leier, John Steenhuisen, het die party se Red Suid-Afrika-toer na Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap geneem met die doel om toenemende veiligheidskwessies aan te spreek. Steenhuisen sê onlangse internasionale peilings het die stad bestempel as Suid-Afrika se gevaarlikste, en die negende gevaarlikste wêreldwyd, met die moordsyfer wat 37-persent gestyg het. Hy sê werkskepping is ‘n afskrikmiddel vir bendewerwing, en beklemtoon dit is noodsaaklik om werkloosheid landswyd aan te pak vir ‘n beter toekoms.
# Die Verkiesingskommissie waarsku teen fopnuus wat kiesers ouer as 60 aanraai om aansoek te doen om vroeёr te stem. ‘n Fopnuus-boodskap wat wyd versprei word beweer diegene bo 60 kan ‘n vroeё stem by hulle stemlokaal uitbring. Spesiale stemme kan op 27 en 28 Mei uitgebring word en kiesers kan aanlyn aansoek doen, per SMS, of by hulle naaste OVK-kantoor aanklop. Aansoeke om spesiale stemme sluit Vrydag. Tuisbesoeke is vir diegene wat nie kan reis nie terwyl besoeke aan kieslokale beskikbaar is vir mense wat nie op 29 Mei kan stem nie.
# Eiendomsagente staar lisensiëringsrisiko’s in die gesig, met die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns wat waarsku oor struikelblokke met die hernuwing van getrouheidsfonds-sertifikate oor nakoming rondom swart ekonomiese bemagtiging. Instellings met ‘n omset van minder as 2,5-miljoen-rand word vrygestel. Die owerheid eis ‘n sertifikaat met ‘n minimum van 40 punte. Die drukgroep Sakeliga sê die owerheid se dreigement om sertifikate te weerhou, is kommerwekkend en hy betwis die wettigheid daarvan.
# Rugby: Die Springbok-vroue Sewes is in Singapoer waar die sewende van agt toernooie in die wêreldreeks hierdie naweek plaasvind. Suid-Afrika is in ‘n moeilike groep met drie spanne wat hulle nog nie hierdie seisoen kon klop nie – Amerika, Frankryk en Japan. Hulle oorwinnings tot dusver was teen Fiji, Groot-Brittanje, Spanje en Brasiliё. Volgens Nadine Roos is Suid-Afrika se mikpunt steeds ‘n plek in die top-agt:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-10-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-710-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-301-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….