Nuus 18:00
BULLETIN 11 November 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Vusimusi “Cat” Matlala beskuldig Bheki Cele daarvan dat hy geld geëis het in ruil vir gunste
# Die VN-hoof, António Guterres, waarsku die klimaatkrisis vererger vinniger as die pogings om dit te stuit
# En, swem: Minister Gayton McKenzie wens Tatjana Smith sterkte toe na haar besluit om vir Nederland deel te neem
# Die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala het die voormalige minister van Polisie, Bheki Cele, daarvan beskuldig dat hy geld in ruil vir gunste geëis het. In sy getuienis voor die Madlanga-kommissie het Matlala vir Cele met ’n blêrkas vergelyk en gesê betalings was nodig om dinge te laat gebeur. Hy het beweer ses-miljoen-rand en ’n eiendom in Trafalgar, KwaZulu-Natal, is geëis om kwessies rakende vuurwapens op te los en ’n bekendstelling aan die KwaZulu-Natal kommissaris van Polisie, Nhlanhla Mkhwanazi, te reël:
# Die Nasionale Jeugwerkloosheids-beweging het ‘n landwye veldtog genaamd UnemploymentFreeCities2029 van stapel gestuur om werkloosheid in Suid-Afrika te bekamp. Die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname toon hoewel die getal werklose jongmense tussen 15- en 34-jaar met 23-duisend gedaal het tot vyf-miljoen, algehele jeugindiensneming met vyf-duisend gedaal het tot 5,5-miljoen. Die beweging se leier, Lindokuhle Yende, sê jeugwerkloosheid moet tot nasionale ramp verklaar word:
# Die gesin van die vermiste bootkaptein, Jan Mokonyane, vra die regering om gespesialiseerde toerusting beskikbaar te stel om soek-en-reddingspogings in die Hartbeespoortdam te versnel. Waterhiasinte bedek tans sowat 46-persent van die dam, wat toegang ernstig belemmer. Mokonyane het op 25 Oktober verdwyn toe die boot met nege mense aan boord omgeslaan het. Agt mense is gered, maar Mokonyane word steeds vermis.
# Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, waarsku wêreldleiers dat die klimaatkrisis vinniger vererger as die pogings om dit te stuit. Hy het in sy toespraak op die COP31-klimaatberaad in Turkye, dringende optrede gevra om skadelike gas-uitstralings te verminder en om vinniger weg te beweeg van fossielbrandstowwe. Onderhandelaars van bykans 200 lande probeer ooreenstemming bereik oor groter gebruik van elektrisiteit en om die afhanklikheid van steenkool, olie en gas te verminder. Guterres sê stygende temperature en toenemende uiterste weer toon regerings moet meer beslissend optree.
# Swem: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het die Olimpiese swemkampioen Tatjana Smith alle voorspoed toegewens ná haar aankondiging dat sy onder die Nederlandse vlag sal meeding. McKenzie sê Smith het hom van haar besluit ingelig voordat sy dit openbaar gemaak het en hy doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om nie haar persoonlike keuse in ‘n politieke kwessie te omskep nie. Die minister sê probleme by Swem Suid-Afrika word deur ‘n hervormingsproses aangespreek waarby World Aquatics betrokke is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-58-sent teen die dollar, 18-rand-41-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-790-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-34-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 94-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….