Nuus 18:00
BULLETIN 23 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse OVK sê stembriewe word reeds gedruk
# Die kragtoevoer na Charlotte Maxeke-hospitaal is herstel
# En, sokker: Arsenal is vasberade om in die Premierskap-titelstryd te bly
# Gauteng se provinsiale Verkiesingsbeampte, Thabo Masemola, het bevestig stembriewe word reeds gedruk. Die kommissie het ‘n seremonie aangebied waar politieke partye en onafhanklike kandidate wat in Gauteng meeding, die Verkiesingsgedragskode onderteken het. Masemola sê voorbereidings vir die verkiesing op 29 Mei is in ‘n gevorderde stadium. Hy het aan kandidate gesê die aflewering van verkiesingsmateriaal aan die provinsiale pakkamer het begin en sal binne redelike tydlyne afgehandel word.
# Die kragtoevoer is herstel na die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal nadat ‘n verbrande toevoerbord by die Ridge-substasie ‘n onderbreking veroorsaak het. Die Gautengse Gesondheidsdepartement bevestig City Power se span het die toevoer vanoggend herstel. Motalatale Modiba van die departement sê die hospitaal het van Sondag af met kragopwekkers gewerk weens die onderbreking wat verskeie gebiede in Johannesburg getref het:
# Adjunkpresident Paul Mashatile is tot Donderdag op ‘n werksbesoek aan Dubai en Abu Dhabi in die Verenigde Arabiese Emirate. Hy wil bilaterale verhoudinge ‘n hupstoot gee en ekonomiese bande en die deel van kennis versterk in die telekommunikasie- en digitale ekonomie-sektore. Mashatile sal ook met die Emirate se Ministerie van Kunsmatige Intelligensie, die Digitale Ekonomie en Afstandstoepassings skakel. Die besoek wil ook vaardigheid in Suid-Afrika se inligtings- en kommunikasie-tegnologiesektor opskerp vir beter dienslewering en bestuur deur digitale kanale.
# Sokker: Die stryd tussen drie spanne in die Engelse Prelierliga woed voort. Arsenal is volgens doelverskil voor Liverpool. met Manchester City een punt agter hulle. Maar City, die verdedigende kampioen, het nog ‘n wedstryd oor. Arsenal is volgende aan die beurt wanneer hulle vanaand hulle Londense teenstanders Chelsea verwelkom. Die bestuurder Mikel Arteta sê hulle is vasberade om deel van die stryd te bly:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-12-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-961-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-7-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Waterkenner, Anthony Turton, het die kritieke rol beklemtoon wat die herstel van watersuiweringsaanlegte speel om die waterkrisis aan te pak. Hy het kommer uitgespreek oor die feit dat ongeveer 60-persent van die daaglikse riool onbehandeld in riviere en damme gestort word. Turton bepleit die gebruik van openbare-privaat vennootskappe as ‘n lewensvatbare oplossing. Hy beklemtoon die dringende behoefte daaraan om aandag te skenk aan afvalwaterbestuur vir die verbetering van watergehalte en omgewingsgesondheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….