Nuus 18:00
BULLETIN 22 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA daag Julius Malema uit om 140-duisend handtekeninge na te gaan voor die OVK se kantore
# Limpopo se Gesondheidsdepartement begin met die doodsregistrasie van 42 busongelukslagoffers
# En, krieket: Die Blinde Krieket-kampioenskap is gereed om 200 deelnemers te verwelkom
# Build One South Africa het die EFF-leier, Julius Malema, uitgedaag om hul 140-duisend handtekeninge van ondersteuning wat by die Verkiesingskommissie ingedien is, na te gaan, na aanleiding van Malema se skeptisisme. Hulle beskuldig Malema daarvan dat hy hul geldigheid sonder bewyse bevraagteken. Die party vra Malema om die befondsingsbronne vir die bekendstelling van die EFF se manifes bekend te maak, en meen daar was moontlik onwettige fondse betrokke. BOSA se verkiesingshoof, Roger Solomons, nooi Malema om Woensdag die handtekeninge voor die OVK se kantore in Tshwane na te gaan:
# Die Gesondheidsdepartement in Limpopo het planne aangekondig om te begin met die doodsregistrasie van die geïdentifiseerde oorskot van 42 mense wat in Paasnaweek se busongeluk dood is. Dit is deel van die proses voor die repatriasie van liggame na hulle families in Botswana. Die ongeluk naby Mokopane het 45 lewens geëis, met net ‘n agtjarige meisie wat dit oorleef het. Die LUR, Phophi Ramathuba, het bevestig nuwe materiaal word ingesamel vir die drie oorblywende monsters:
# ‘n Kragonderbreking in die Johannesburgse middestad het verskeie groot hopitale geraak – die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal, die Nelson Mandela-kinderhospitaal, Parklane-hospitaal, die Brenthurst-kliniek en die Randse Kliniek. Verbruikers in Berea, Hillbrow, Parktown en omliggende gebiede is ook getref. City Power skryf die onderbreking toe aan ‘n uitgebrande toevoerbord by die Ridge-substasie. Intussen is duisende inwoners van die ooste van Pretoria sedert verlede Woensdag sonder krag na ‘n brand by die Mooikloof-substasie. Die stad hoop om teen Woensdagaand die toevoer te herstel.
# ‘n Elf-jarige kind is gisteraand dood nadat gewapende mans op plaasbewoners in twee huise in Ficksburg in die Vrystaat losgebrand het. Volgens ‘n polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, is ses mense gewond. Mophiring sê die aanvallers het daarna te voet gevlug na ‘n wagtende motor wat langs die R26 geparkeer was. Die motief vir die aanval bly onduidelik, maar die ondersoek duur voort.
# Krieket: Twee-honderd deelnemers uit alle dele van Suid-Afrika neem van 26 April tot 1 Mei in Noordwes deel aan die Blinde Krieket-kampioenskap. Die nasionale byeenkoms word gespeel op die Witrand-krieketveld, die veld van Potchefstroom Boys High, en die JB Marks-ovaal. Nege provinsiale spanne speel T20-wedstryde, met die halfeind- en eindstryde op JB Marks. Die kampioenskap verseker gelyke geleenthede vir gesiggestremdes.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-291-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-339-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….