Nuus 17:00
BULLETIN 16 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natal sal die meeste stemlokale hê
# Krieket: Glenn Maxwell neem ‘n onbepaalde ruskans van die IPL
# En, motoriste op die N9 word gevra om versigtig te wees ná oornag-sneeu
# Die Verkiesingskommissie sê KwaZulu-Natal sal in die komende verkiesing die grootste aantal stemlokale hê, naamlik altesaam vier-duisend-974 van die meer as 23-duisend landwyd. Die Oos-Kaap en Limpopo sal onderskeidelik vier-duisend-868 en drie-duisend-216 lokale hê. Spesiale stemaansoeke, wat daarop gemik is om kiesers te help wat nie op verkiesingsdag ‘n stemlokaal kan besoek nie, bly oop tot 3 Mei. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het op ‘n nuuskonferensie reisigers daaraan herinner om die kommissie teen 22 April van hul voorgenome stemplek in kennis te stel:
# Regter Colleen Collis van die Hooggeregshof in Pretoria het die voormalige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se gratifikasiesaak tot Donderdag uitgestel. Mkhwebane maak beswaar teen die besluit van die kantoor van die openbare beskermer om die uitbetaling van tien-miljoen-rand van haar te weerhou. Sy het verlede maand die saak aanhangig gemaak waarin sy betoog die betaling kom haar toe. Die regter het die uitstel toegestaan weens geskille oor die dringendheid van die saak en kommer oor die koste:
# Oudpresident Thabo Mbeki waarsku hongersnood is in Soedan op hande, aangevuur deur konflik-aangedrewe ontworteling en die verwoesting van infrastruktuur in Khartoem. Mbeki sê die meer as agt-miljoen ontheemde mense dui op die dringende behoefte aan humanitêre toegang en voldoening van internasionale wette. Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, steun die wekroep en sê daar is aan net ses-persent van die VN se befondsings-pleidooi voldoen. Mbeki vra partye in Soedan om aflewering van bystand te ondersteun en aanvalle op burgerlikes te stop, insluitend etniese teikening en geslagsgeweld.
# Krieket: Die Australiese veelsydige speler Glenn Maxwell sê hy neem onbepaald ‘n ruskans van die Indiese Premierliga ná ‘n baie teleurstellende seisoen sover vir die Royal Challengers Bengaluru. Hy kon slegs 32 lopies in ses wedstryde aanteken. Maxwell sê dit is nou ‘n goeie tyd om geestelik en fisiek te rus sodat hy sy spelpeil kan herwin. RCB, met Faf du Plessis as kaptein, beleef ‘n beroerde seisoen en bevind hulle onderaan die punteleer van die tien spanne na slegs een sege in sewe kragmetings.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-999-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-376-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-43-sent per vat.
# En ten slotte, motoriste wat op die N9 tussen Graaff-Reinet en Middelburg in die Oos-Kaap reis, word gevra om versigtig te wees na sneeu oornag. Die provinsiale Departement van Vervoer sê hoewel die sneeuneerslag nie swaar genoeg was om padsluitings te noodsaak nie, moet bestuurders waaksaam bly. Die woordvoerder, Unathi Binqose, sê dis belangrik om veral op daardie spesifieke pad ekstra versigtig te wees. Volgens die weervoorspelling gaan sonnige toestande heers, wat beteken die sneeu sal waarskynlik binnekort smelt.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….