Nuus 17:00
BULLETIN 29 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die NVG kry ‘n bewaringsbevel vir bates ter waarde van 99-miljoen-rand in die Joe Sibanyoni-saak
# COSATU vra studente van werkersklas-gesinne om aansoek te doen vir NSFAS-befondsing
# En, rugby: Die Bokke het nog ‘n klomp werk om te doen voor die Nasieskampioenskap-eindronde
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het, deur sy Eenheid vir Batebeslaglegging in Mpumalanga, ‘n voorlopige bevel verkry om bates met ‘n geraamde waarde van 99-miljoen-rand in bewaring te plaas. Die bates word verbind aan die sakeman Joe Sibanyoni en ander. Die bevel is gister deur die Hooggeregshof in Mpumalanga in Middelburg, toegestaan. Die bates sluit in eiendomme in Centurion en Pretoria, luukse voertuie, bankrekeninge en beleggings. Die bevel volg op polisieondersoeke na beweerde afpersing en verwante misdrywe. Die NVG sê die doel van die bevel is om te verhoed opbrengste uit misdaad word verkwis.
# Die eiendomsbedrogsaak teen die beweerde misdaadbaas Vusumuzi ‘Cat’ Matlala en drie medebeskuldigdes is in die Pretoria-Landdroshof tot 11 Februarie 2027 vir verdere ondersoek uitgestel. Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte wat verband hou met ‘n beweerde bedrogskema rakende luukse huurkontrakte in Waterkloof, Pretoria. Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê die uitstel is nie ‘n onnodige vertraging nie en verduidelik finansiële ondersoeke neem dikwels tyd om te voltooi:
# Die vakverbond COSATU sê werkers moet afhanklikes aanmoedig om voor die sperdatum Saterdag by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente aansoek te doen vir die 2027 akademiese jaar. Afhanklikes van ouers wat in die openbare of ander sektore werk, kan kwalifiseer vir die “vermiste middel”-lening. Studente van gesinne met ‘n gesamentlike huishoudelike inkomste 350-duisend-rand of minder per jaar, kwalifiseer vir die skema se beurse. Zanele Sabela van COSATU sê studente uit huishoudings met ʼn gesamentlike jaarlikse inkomste van tussen 350-duisend-rand en 600-duisend-rand, kwalifiseer vir ʼn “vermiste middel”-beurs:
# Die Spaanse polisie het 64 verslae oor vermiste persone ontvang ná Woensdag se dodelike treinbotsing terwyl DNS-toetse om die slagoffers uit te ken begin het. Kantore is in Madrid, Toledo, Córdoba en Seville ingerig waar naasbestaandes versoek is om DNS-monsters te verskaf om te help met identifisering. Ondersoekers samel ook besonderhede soos geboortevlekke en ander liggaamskenmerke in. Die dodetal het intussen tot 69 gestyg, met 50 mense steeds in die hospitaal. Forensiese spanne ondersoek die liggame wat reeds gevind is en reddingswerkers deursoek steeds die wrak.
# Rugby: Die Springbokke sal Sondag en Maandag in verskillende groepe in Italië aankom voor volgende naweek se afskop van die Nasieskampioenskap se noordelike afdeling. Hulle speel volgende Saterdag in Turyn teen Italië, gevolg deur toetse teen Frankryk in Parys op 13 November en Ierland in Dublin die 21ste. Suid-Afrika het al drie sy toetse gewen tydens die suidelike gedeelte van die nuwe kompetisie, maar het steeds baie werk om te doen om die eindronde op die 27ste op Twickenham in Londen te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-70-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-24-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 114-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….