Nuus 17:00
BULLETIN 15 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ace Magashule se voormalige sekretaresse word in die VSA aangekeer
# AfriForum oorhandig ‘n versoekskrif om die BELA-wetsontwerp te keer
# En rugby: Die Haaie is tevrede om as gasheer op te tree vir Clermont in Londen
# Die voormalige sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, se gewese sekretaresse, Moroadi Cholota, is in Amerika agter tralies. Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig sy is die naweek in hegtenis geneem. Dit het gebeur net voor die saak oor die Vrystaatse asbesverwyderings-projek van 255-miljoen-rand in die Hooggeregshof in Bloemfontein sou begin. Magashule en sy 17 mede-beskuldigdes, onder andere die sakeman Edwin Sodi, staan tereg op meer as 70 aanklagte, waaronder bedrog, korrupsie en geldwassery. Die saak is nou uitgestel tot 14 Junie.
# Stortreën in KwaZulu-Natal het talle lewens in Durban en omstreke geëis. Dit sluit in ‘n ouma en haar kleinseun in Verulam. Drie mense is dood nadat hulle voertuig gister in Margate teen ‘n skuinste af meegesleur is. Daar was ook twee sterftes in Folweni en een in Umlazi weens mure en strukture wat omgeval het. Die Departement van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Siboniso Mngadi, sê rampbestuurspanne is op bystand:
# AfriForum Jeug het by die Uniegebou in Pretoria ‘n versoekskrif aan die Presidensie oorhandig om die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette teen te staan. Die woordvoerder, Louis Boshoff, voer aan die BELA-wetsontwerp is ‘n bedreiging vir Afrikaanse onderrig. Hy beklemtoon klousules wat skooltaalbeleide en ouerlike onderrig-regte beperk, en waarsku oor kulturele etniese suiwering indien dit aanvaar word:
# Suid-Afrika se strategie om handelsbande met China te versterk sal stukrag kry op die Chinese Internasionale Uitvoer-ekspo in November. Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het op ‘n nuuskonferensie in Johannesburg die land se doelwitte uitgespel om die uitstalling te bevorder. Die adjunk-direkteur-generaal, Lerato Mataboge, beklemtoon die mikpunt is om Suid-Afrika se uitvoere na China te vermeerder, veral in vervaardigde en waarde-toegevoegde produkte. Die teiken is om die handel tussen die twee lande uit te brei.
# Rugby: Die Haaie sal na Londen moet reis om as gasheer vir Clermont op te tree in hul halfeindstryd in die Uitdaagbeker, terwyl Gloucester gasheer is vir die Italiaanse span Benetton. Albei kragmetings vind die eerste naweek in Mei plaas. Suid-Afrikaanse spanne kon slegs tot met die kwarteindronde tuiswedstryde aanbied, wat die rede is waarom die Haaie hul halfeindstryd op ‘n neutrale veld sal speel. Die afrigter, John Plumtree, is net bly hulle is onder die laaste vier:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-94-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-en-36-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 89-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….