Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma kry die groen lig om die MK Party se topkandidaat in die verkiesing te wees
# Skole in alle Wes-Kaapse onderwysdistrikte sal môre oop wees
# En, sokker: Pep Guardiola sê Manchester City moet sy spelpatroon op Real Madrid afdwing
# Die Verkiesingshof het ten gunste van oudpresident Jacob Zuma beslis in sy saak teen die OVK. Hy sal nou die MK Party se nommer-een kandidaat in die verkiesing op 29 Mei wees.
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het aangekondig skole in alle onderwysdistrike sal môre oop wees, insluitend in die Kaapse Wynland en die Overberg. LUR David Maynier het ook bevestig 144 skole het skade aangemeld weens die erge weer, wat wissel van geringe kwessies tot ernstige skade. Kontrakteurs is besig om dit na te gaan en die skade te herstel. Maynier het steun beloof aan skole wat geraak word, met aandag aan veiligheid te midde van uitdagings:
Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, het inwoners intussen gevra om baie versigtig te wees omdat swaar reën die gevaar van oorstromings vererger. Dit volg nadat noodspanne ‘n vroulike bestuurder gered het wat op ‘n oorstroomde pad in Centurion vasgekeer was, terwyl ‘n bejaarde inwoner gered is uit ‘n oorstroomde woning in Soshanguve. Motoriste en pendelaars word gevra om oorstroomde paaie en brûe te vermy, alternatiewe roetes te gebruik, en hulle veiligheid te verseker. Brink herinner inwoners om waaksaam te wees en noodgevalle aan te meld by die tolvrye noodnommer.
# Adjunkpresident Paul Mashatile het die regering geloof vir sy pogings om die onregte van die verlede reg te stel. Hy het ‘n openbare lesing oor Suid-Afrika se demokrasie gelewer by die Universiteit van Johannesburg. Mashatile wys op vordering in onderwys, werkskepping, maatskaplike samehorigheid en ekonomiese bemagtiging. Hy beklemtoon die belangrikheid om te belê in nasionale ontwikkeling en ekonomiese hervorming sodat Suid-Afrika kan vordering maak:
# Sokker: Die kwarteindronde van die Kampioeneliga begin vanaand met twee groot kragmetings. Die voorloper in die Premierliga, Arsenal, verwelkom Bayern Munchen in Londen, terwyl die verdedigende kampioen, Manchester City, in Spanje teen Real Madrid te staan kom. City se bestuurder, Pep Guardiola, sê sy span moet sy spelpatroon op die gasheer afdwing:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-42-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-688-dollar-76-sent. Die prys van goud is twee-duisend-353-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-54-sent per vat.
# En ten slotte: Die Universiteit Stellenbosch het Afrika se eerste laboratorium vir beleids-vernuwing bekendgestel in samewerking met die Presidensie, Duitsland en die Bill en Melinda Gates-stigting. Die laboratorium ondersoek die gebruik van datawetenskap en instrumente van kunsmatige intelligensie om probleme in beleidsamestelling op te los. Die vise-kansellier, Wim de Villiers, sê die laboratorium is ‘n gevorderde program en voldoen aan die universiteit se strewe vir trans-dissiplinêre navorsing met ‘n maatskaplike uitwerking.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….