Nuus 17:00
BULLETIN 22 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Buitelandse burger is in Durban se middestad doodgeslaan
# OUTA eis optrede na slegs 1,5% van DNS-profiele betyds afgehandel is
# En, webwerwe word wêreldwyd beveilig na kritieke foute in PHP programmeertaal blootgelê is
# Die Durbanse polisie ondersoek die noodlottige aanranding van ‘n buitelandse burger deur ongeveer 50 mense in die middestad. Die woordvoerder, Robert Netshiunda, sê die man wat na raming in sy laat 30’s of vroeë 40’s was, is op die toneel dood verklaar. Die aanval het plaasgevind nadat twee mans uit ‘n groep, wat in Dr Pixley kaSeme-straat in die rigting van Maud Mfusi-straat gestap het, weggebreek en hom genader het. Die polisie het nog nie die slagoffer se nasionaliteit of die motief vir die moord bevestig nie.
Intussen verordeel die Vereniging van Staatsamptenare die Departement van Binnelandse Sake omdat hy na bewering versuim het om werknemers by die Durban-vlugtelingontvangssentrum in KwaZulu-Natal te beskerm. Claude Naicker van die PSA sê personeel is bevrees oor intimidasie, viktimisering, aanranding en lewensverlies in ‘n onbestendige omgewing, terwyl die Departement slegs administratiewe maatreëls instel. Hy sê die vrees strek verder as die werksplek en personeel is bekommerd hulle word geïdentifiseer en geteiken terwyl hulle na en van die werk reis. Die staatsdiensvakbond eis spesiale verlof en alternatiewe werksreëlings:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vra die regering om dringend forensiese dienste te verbeter nadat bevindings wat in die Parlement voorgelê is, getoon het slegs 1,5-persent van die DNS-profiele is binne die 30-dae teiken verwerk. Byna 166-duisend DNS-verwysingsmonsters wag steeds op verwerking deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens. OUTA se uitvoerende hoof, Wayne Duvenage, sê dié vertragings knou ondersoeke na verkragting en die seksuele misbruik van kinders en veroorsaak dat slagoffers maande, of selfs jare, op geregtigheid moet wag:
# Regerings en ondernemings wêreldwyd werk inderhaas om hulle webwerwe te beveilig nadat twee kritieke swakhede ontdek is in PHP, ‘n programmeertaal waarvolgens ‘n groot deel van die internet funksioneer. Dit stel kuberkrakers in staat om sonder ‘n wagwoord beheer oor kwesbare bedieners oor te neem. Miljoene pogings om die swakhede uit te buit is reeds aangemeld. Verskeie lande het as ‘n voorsorgmaatreël webwerwe tydelik vanlyn geneem. In Suid-Afrika maak duisende bedieners van PHP gebruik, maar geen onderbrekings by plaaslike owerhede wat met die spesifieke swakhede verband hou, is in die openbaar bevestig nie.
# Motorsport: Die president van die FIA, Mohammed Ben Sulayem, verwag die Formule Een Grand Prix in Katar en Abu Dhabi sal soos beplan voortgaan. Dit volg ondanks voortgesette konflik in die Midde-Ooste en die Iran-gesteunde Houthi-aanvalle op Saoedi-Arabië. Sulayem het aan Motorsport.com gesê hy is vol vertroue die laaste twee wedrenne van die seisoen sal plaasvind. Die Katarse Grand Prix word volgende maand gehou, terwyl die Abu Dhabi Grand Prix vir Desember beplan word. Formule Een het wel ‘n noodplan om die laaste wedren van die seisoen in Italië aan te bied, indien nodig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-662-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-76-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 113-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….