Nuus 17:00
BULLETIN 5 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ronald Lamola ondersteun die Afrika-Unie se besluit om ‘n Afrika-migrasiekonferensie saam te roep
# Tennis: Carlos Alcaraz onttrek aan die Cincinnati-ope terwyl daar ook twyfel bestaan oor die verdediging van sy Amerikaanse Ope-titel
# En, die Augrabies Nasionale Park vier sy sestigste bestaansjaar
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika ondersteun die Afrika-Unie se langdurige besluit om ‘n migrasiekonferensie vir die vasteland byeen te roep. Lamola het tydens ‘n inligtingsessie aan die media gesê die byeenkoms moet migrasie aanspreek, asook vrede, ekonomiese ontwikkeling, streeksintegrasie en demokratiese regering. Hy sê die konferensie moet ook die oorsake van xenofobie, geweld en anti-migrantesentiment aanspreek. Hy sê migrasie is ‘n kontinentale uitdaging wat ‘n gekoördineerde reaksie van Afrika verg:
# Die Madlanga-kommissie het bewerings aangehoor dat die geskorste minister van Polisie, Senzo Mchunu, ingemeng het met die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se werk. Advokaat Drushantha Ramsamy het getuig die voormalige hoof, Andrea Johnson, het herhaaldelik verwys na besprekings met Mchunu om die polisie ‘skoon te maak’. Ramsamy beweer Johnson het ook inligting gesoek om die minister se voormalige personeelhoof, Cedric Nkabinde, te ondersoek ná vergaderings met Mchunu:
# Die Wêreldbank sê kunsmatige intelligensie kan produktiwiteit en ekonomiese groei in ontwikkelende lande aansienlik verhoog as regerings in die regte grondbeginsels belê. Volgens die Wêreldontwikkelingsverslag vir 2026 kan KI produktiwiteit in meer as 16-persent van werksgeleenthede in ontwikkelende ekonomieë betekenisvol verbeter. Hoofekonoom, Indermit Gill, sê lande het nie gevorderde KI-modelle nodig om voordeel te trek nie, maar moet dringend elektrisiteit, internettoegang, digitale vaardighede en instellings versterk om te verhoed dat hulle agterbly.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, het hom aan die Cincinnati-ope onttrek weens ‘n knaende polsbesering. Die Spanjaard het in April laas mededingend gespeel toe die besering hom uit die Barcelona-ope gedwing het. Hy het ook die kans misgeloop om sy Franse Ope-titel te verdedig en ‘n poging om Wimbledon ‘n derde keer te wen. Alcaraz sou na Cincinnati terugkeer as deel van voorbereiding vir die verdediging van sy titel in die Amerikaanse Ope, wat op 30 Augustus begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-87-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-187-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 83-dollar-59-sent per vat.
# En, laastens, SANParke vier die 60ste bestaansjaar van die Augrabies Nasionale Park in die Noord-Kaap, wat een van Suid-Afrika se mees ikoniese natuur-trekpleisters is. Die park is op 5 Augustus 1966 geproklameer en beskerm ‘n unieke dorre ekostelsel, die waterval van 56 meter en die graniet-skeur van 18 kilometer. JP Louw van SANParke het werknemers, omliggende gemeenskappe, bewaringsvennote en besoekers bedank wat die reservaat se ryke natuurlike en kulturele erfenis vir toekomstige geslagte help bewaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….