Nuus 17:00
BULLETIN 19 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Thabo Mbeki sê die demokratiese oorgang het ’n fyn balans vereis
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel sê sakevertroue styg ondanks ‘n daling in September
# En, motorsport: die voormalige spanhoof, Christian Horner erken sy rol in die omstrede Abu Dhabi Grand Prix van 2021
# Die voormalige president, Thabo Mbeki, sê die ses jaar lange onderhandelinge tussen die ANC en die apartheidsregering wys hoe ingewikkeld Suid-Afrika se oorgang na demokrasie was. Mbeki het voor die Khampepe-kommissie getuig oor vertragings met die vervolging van misdade uit die apartheidsera, wat deur die Waarheids-en-versoeningskommissie vir vervolging verwys is. Mbeki het ooreenkomste wat tydens die oorgang bereik is met stukkies van ‘n legkaart vergelyk. Hy sê die verandering van een deel kon die hele ooreenkoms beïnvloed:
# Die kredietverskaffer Prime Loans vra die regering om die reëls vir korttermynlenings te hervorm om toegang tot veilige, wettige krediet te verbeter en finansieel kwesbare verbruikers te beskerm teen onwettige geldskieters. Die onderneming sê verouderde prysbepalings, wat sedert 2015 nie wesenlik hersien is nie, maak dit vir kredietverskaffers moeilik om lenings toe te staan aan kliënte met ‘n hoër risikoprofiel. Nita Morgan van Prime Loans vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om voor Woensdag se mediumtermyn-begrotingsverklaring voorkeur te gee aan hervormings in die uitleensektor:
# Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid sê sakevertroue is, ten spyte van voortdurende ekonomiese onsekerheid, sterker as ‘n jaar gelede. Sy sakevertroue-indeks het verlede maand effens gedaal, met 0,8 punte tot 134,3 punte, maar het in die eerste nege maande van vanjaar op ‘n gemiddeld van 129,3 punte gestaan, vergeleke met 119 punte in dieselfde tydperk verlede jaar. Die uitvoerende hoof van die kamer, Alan Mukoki, sê ‘n toename in toeristeaankomste, verkope van nuwe voertuie en kleinhandelverkope het vertroue versterk, terwyl hoër energiepryse en onsekerheid oor oliepryse steeds kommerwekkend bly.
# Die onafhanklike Australiese parlementslid Helen Haines is in ‘n bedenklike toestand nadat sy buite haar kantoor in Wangaratta, Victoria, deur ‘n voertuig getref is. Die eerste minister Anthony Albanese sê dit lyk of dit ‘n doelbewuste aanval was. ‘n Vier-en-dertig-jarige man is in hegtenis geneem, en die polisie het ‘n mes in sy voertuig gevind. ‘n Gesamentlike teen-terrorisme-eenheid help met die ondersoek, maar die owerhede het nog nie ‘n motief vasgestel of bevestig of die verdagte vir Haines geken het nie. Die 65-jarige Haines verteenwoordig die Indi-kiesafdeling sedert 2019.
# Motorsport: Red Bull se voormalige spanhoof, Christian Horner, erken hy het druk geplaas op die destydse wedren-direkteur, Michael Masi, tydens die beslissende Abu Dhabi Grand Prix van 2021. Masi is uit sy pos onthef oor ‘n laat veiligheidsmotor-ontplooiing, waarna Max Verstappen van Red Bull vir Lewis Hamilton van Mercedes kon verbysteek en sy eerste wêreldkampioenskap inpalm. Horner sê hy het Masi gevra om nie die wedren agter die veiligheidsmotor te laat eindig nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-44-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-556-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 109-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….