Nuus 17:00
BULLETIN 12 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Polisie bevestig Shadrack Sibiya se onmiddelike ontslag
# Die GOOD-party vra vir strenger optrede om vroue en kinders teen geslagsgeweld te beskerm
# En, RISE Mzansi se leier veroordeel die intimidasie van die regbank as gevolg van die asielbeslissing
# Die geskorste adjunk-nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, is met onmiddelike ingang uit die polisie ontslaan. Hy is voor ‘n tugkomitee gedaag oor ernstige bewerings van korrupsie, magsmisbruik en bande met die misdaadwêreld. Hy staan ook tereg op aanklagte van verkragting, mensehandel en die seksuele gereedmaking van ‘n minderjarige. Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Puleng Dimpane, sê Sibiya se vertrek word as oneerbare ontslag beskou omdat hy bedank het terwyl die tugsaak nog aan die gang was:
# Die GOOD-party sê die staat moet voorkoming, aanspreeklikheid en veilige infrastruktuur voorop stel om vroue en kinders teen geslagsgeweld te beskerm. Sekretaris-generaal Brett Herron sê mans moet ‘n leidende rol speel in die stryd teen geslagsgeweld deur geweld en mishandeling teen te staan en mekaar tot verantwoording te roep. Hy sê gemeenskappe het ook ‘n verantwoordelikheid om nie stil te bly oor mishandeling nie, voorvalle aan te meld en slagoffers by te staan:
# Die leier van RISE Mzansi, Songezo Zibi, waarsku teen die normalisering van gewelddadige intimidasie van die regbank en sê sulke optrede kan die demokrasie en die oppergesag van die reg bedreig. Durban en Johannesburg is in die greep van betogings wat gewelddadig geword het ná die Konstitusionele Hof se uitspraak oor asielaansoeke. Die hof het sekere bepalings van die Wet op Vlugtelinge ongrondwetlik verklaar. Zibi sê die intimidasie van regters en die verspreiding van waninligting wat geweld kan aanhits, is onaanvaarbaar:
# Die regering van Pakistan het die hoofminister van ‘n provinsie onder beheer van die voormalige eerste minister Imran Khan in hegtenis geneem nadat ‘n noodreël ingestel is. Khan is tans in die tronk. Reuters berig die minister van Binnelandse Sake, Talal Chaudhry, het gister bevestig Sohail Afridi en ander kabinetslede is in voorkomende aanhouding. President Asif Ali Zardari het die noodtoestand afgekondig na aanleiding van veiligheidsoorwegings en mislukte pogings om militante geweld aan te spreek. Khan se party verwerp die stap en sê dis ‘n aanval op demokrasie. Die optrede kom te midde van beplande protesoptogte om Khan se vrylating te eis.
# Rugby: Die Springbok-vleuel Courtnall Skosan het ná 16 jaar van professionele rugby sy uittrede aangekondig. Die 35-jarige het sedert sy debuut in 2017 in twaalf toetse vir Suid-Afrika gespeel en 10 punte aangeteken. Hy het ook vir Suid-Afrika onder-20 en Suid-Afrika-A uitgedraf. Skosan het tussen 2014 en 2021 in 84 wedstryde vir die Leeus gespeel en het ook vir die Bulle, Northampton Saints in Engeland en die Stormers uitgedraf. Hy sê hy het as ‘n seun uit die klein dorpie Northpine in Kaapstad sy droom uitgeleef waaroor hy eens net kon bid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-55-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-666-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-164-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 109-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….