Nuus 17:00
BULLETIN 25 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party ontslaan Peter de Villiers vir seksuele wangedrag
# Die Batebeslagleggings-eenheid kry verbeuringsbevele van 18-miljoen-rand in ‘n goudsindikaatsaak
# En, tennis: Alcaraz droom van ‘n wedywering soos dié tussen Roger en Rafa
# Die GOOD-party sê hy het die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers ontneem van sy partylidmaatskap én sy posisie as lid van die Wes-Kaapse wetgewer na bevindings van seksuele wangedrag. Die besluit volg nadat ‘n tugproses bevind het De Villiers het die party se grondwet en gedragskode oortree. Bewerings het op 31 Januarie na vore gekom, wat gelei het tot sy onmiddellike skorsing, hangende ‘n ondersoek. GOOD se nasionale voorsitter, Matthew Cook, sê adjunksekretaris-generaal Suzette Little is ingehuldig om De Villiers se termyn te voltooi:
# Die Batebeslagleggingseenheid in Pretoria het drie bevele ter waarde van18-miljoen-rand van die Hooggeregshof verkry, vir die verbeuring van eiendom wat behoort aan individue wat betrokke is by ‘n beweerde onwettige goudsindikaat in Khutsong, Carletonville. Die bates sluit in 51 voertuie en sewe eiendomme in Khutshong, Carletonville, Potchefstroom en Krugersdorp, sowel as 16 bankrekeninge. Die streekvoorsitter van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê die nege beskuldigdes sal van 25 Julie af in die Hooggeregshof in Pretoria verhoor word:
# Die Grensbestuursowerheid sê hawegesondheidspesialiste sal siftings uitvoer op reisigers vir aansteeklike siektes, wat vereis mense vanuit gebiede waar geelkoors endemies is, moet ‘n geldige sertifikaat hê. Dit sluit in om te verseker vervoer vanaf sulke gebiede word ontsmet. Reisigers wat tekens van siektes toon, word aangeraai om by gesondheidsgeriewe aan te meld. Die kommissaris, Michael Masiapato, het op ‘n nuuskonferensie oor die Paasfees-bedrywighede gesê hawe-gesondheidsbeamptes vorm steeds deel van reaksiespanne wat aandag gee aan die vroeëre cholera-uitbreking:
# Tennis: Die wêreld nommer-twee, Carlos Alcaraz, sê hy droom om deel te wees van ‘n wedywering soos dié tussen Roger Federer en Rafael Nadal. Die tweestryd tussen die Switser en die Spanjaard word as die grootste nog beskou. Alcaraz, ook van Spanje, sê dit het hom geleer jy moet altyd jou spelpeil verhoog. Hy en die Italianer, Jannik Sinner, word tans as die opwindendste nuwe geslag-spelers beskou, met albei wat vier van hul agt vorige kragmetings gewen het. Hulle kan volgende in die Miami Ope teen mekaar speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-en-55-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-174-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 85-dollar-32-sent per vat.
# En, ‘n toonaangewende sagteware-tegnologiemaatskappy vir ondergrondse studies en geowetenskap, Seequent, sê tegnologie speel ‘n deurslaggewende rol in die stryd teen klimaatsverandering. Hernubare energietegnologie soos son-, wind- en hidrokrag word al kostedoeltreffender en toegankliker, wat die afhanklikheid van fossielbrandstowwe verminder. Die direkteur van Seequent, Thomas Krom, sê sy doel as sagtewareverskaffer is om sagteware te skep wat aanpassing en verligting meer koste-doeltreffend maak, en wat toetrede tot die tegnologiese stryd teen klimaatsverandering dus meer toeganklik maak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….