Nuus 17:00
BULLETIN 20 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FNB bevestig die bevriesing van betalings vanuit Jacob Zuma se rekeninge
# President Ramaphosa beklemtoon geskiedkundige uitdagings vir swart nyweraars ondanks vordering
# En, rugby: WP voltooi ‘n ekwiteitsooreenkoms met Rooi Disa-konsortium
# FNB sê hy het uitgaande betalings uit oudpresident Jacob Zuma se rekeninge bevries kragtens ‘n hofbevel wat deur die Hooggeregshof in Pietermaritzburg uitgereik is. Terwyl uitgaande betalings gevries word, bly inkomende betalings onaangeraak. News24 berig dié optrede spruit uit die VBS Mutual Bank-likwidasieproses, waarby bedrog van byna twee-miljard-rand betrokke is. FNB het reeds vroeër ’n kennisgewing uitgereik om Zuma se rekeninge te sluit, waarin opbrengste van ’n VBS-lening van 7,8-miljoen-rand betaal is. VBS Bank is in 2018 onder kuratorskap geplaas weens bedrog en plundering van deposito’s.
# President Cyril Ramaphosa het erkenning gegee aan volgehoue uitdagings vir swart nyweraars ondanks vooruitgang. Hy het tydens die Konferensie vir Swart Nyweraars in die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg verwys na die 20ste herdenking van die Wet op Swart Ekonomiese Bemagtiging en die 30ste herdenking van demokrasie. Ramaphosa sê dis noodsaaklik om geskiedkundige diskriminasie teen swart Suid-Afrikaners aan te pak as deel van die voortgesette reis na bemagtiging, en gelykheid in die land se nywerheidsektor:
# COPE sê die voorbereiding van sy verkiesingsmanifes vir die komende algemene en provinsiale verkiesing vorder goed. Die party se leier, Mosiuoa Lekota, sal môre die manifes bekend stel in die Suurman-gemeenskapsaal in Hammanskraal, Tshwane. COPE se waarnemende sekretaris-generaal, Erick Mohlapamaswi, sê die manifes sal gesentreer wees rondom talle uitdagings waarmee die land worstel weens meer as 15-jaar van wanbestuur en swak leierskap:
# Die polisie in KwaZulu-Natal ondervra ‘n man in verband met die verdwyning van die bekende skipper van Sodwanabaai, John Matambu. Hy het die naweek verdwyn nadat hy ‘n onbekende man op sy skiboot, Magnum Too, uitgeneem het. Dit is later uitgebrand gevind op ‘n Mosambiekse strand. Die man het blykbaar die boot gehuur en beweer hy is terminaal siek. Die polisie sê ‘n persoon van belang word ondervra. Die man is na berigte van Komatipoort. Vroeër is berig Interpol en die Mosambiekse polisie het kragte saamgespan om Matambu op te spoor.
# Rugby: Die Rooi Disa-konsortium het ‘n beherende aandeel in Westelike Provinsie bekom. Die unie het aangekondig dat hy die aandeletransaksie beklink het met die konsortium, wat bestaan uit die beleggings-beheermaatskappy Fynbos, Ardagh-glasverpakking, en Marble Head-beleggings. Sport24 berig die transaksie behels ‘n aanvanklike inspuiting van 148-miljoen-rand in die unie se koffers. WP se administrateur wat deur SA Rugby aangestel is, Peter Jooste, glo die ooreenkoms sal die unie se krag vorentoe verseker. Die Stormers se afrigter, John Dobson, sê hulle sien uit na ‘n nuwe hoofstuk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-86-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-391-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-152-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….