Nuus 17:00
BULLETIN 7 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa stel die FuturePharma-fasiliteit in Tshwane bekend
# SAFTU sê ‘n nood-lampolie-subsidie moet vir arm huishoudings ingestel word
# En: Christa Pike se regspan vra die hof om bewyse ná haar mislukte teregstelling te bewaar
# President Cyril Ramaphosa sê die bekendstelling van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad se FuturePharma-fasiliteit in Tshwane is ‘n belangrike stap in die rigting van die versterking van Suid-Afrika se gesondheidsoewereiniteit. Ramaphosa sê dit sal help om farmaseutiese innovasies vanuit laboratoriums na kliniese ontwikkeling, grootskaalse produksie en vervaardiging te neem. Hy voeg by sterker vennootskappe tussen die regering, universiteite, die bedryf en reguleerders is nodig om plaaslike farmaseutiese vermoë uit te brei, werkgeleenthede te skep en gesondheidsveiligheid te verbeter:
# Die vakbondfederasie SAFTU sê ‘n noodsubsidie vir paraffien is noodsaaklik om arm huishoudings teen die skerp styging in brandstofpryse te beskerm. Die federasie voer aan die verhoging van drie-rand-58-sent per liter sal verdere druk plaas op gesinne wat op lampolie staatmaak vir kookdoeleindes, verhitting en beligting. Asive Dyani van SAFTU het die jongste brandstofprysstygings veroordeel en waarsku dit kan die lewenskostekrisis vir werkersklas-huishoudings vererger:
# Build One South Africa verwag ‘n sterk vertoning in Johannesburg en Tshwane tydens die plaaslike verkiesing op 4 November. Die leier van BOSA, Mmusi Maimane, het aan die SABC gesê Gauteng het ‘n kernbelangrike deel van die party se voetspoor geword, met vordering wat ook in Limpopo en Kaapstad aangeteken is. Hy het beklemtoon BOSA sal ‘n verenigde Suid-Afrika bou deur rasgebaseerde politiek te verwerp en ongelykheid aan te spreek:
# Christa Pike se regspan het ‘n hof in Tennessee versoek om bewyse wat verband hou met haar mislukte teregstelling verlede week te bewaar. Pike het die teregstelling oorleef nadat sy twee dosisse van ‘n dodelike inspuiting ontvang het en is tans in die hospitaal. Haar regspan wil hê alle bewyse, insluitend naalde, inligting rakende die middel en amptelike teregstellingsrekords, moet bewaar word. Volgens die regsverteenwoordigers het die teregstellingspan gesukkel om ‘n aar vir die inspuiting te vind, wat ernstige beserings aan Pike se arms veroorsaak het. Owerhede in Tennessee sê die betrokke bewyse word reeds bewaar. ‘n Hofverhoor oor die versoek vind vandag plaas.
# Rugby: Die veelsydige Springbok-voorspeler Deon Fourie is bereid om te speel waar ookal die Stormers hom nodig het. Die 40-jarige is terug na toets-diens en is op die bank gekies vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-tuis-derby teen die Haaie. Fourie het die nommer ses-trui vir die Stormers gedra sedert sy terugkeer in 2021, maar het vir die Bokke meestal haker gespeel. Die Bok-kaptein, Siya Kolisi, en die opkomende ster, Paul de Villiers, is die flanke in die Stormers se opdrafspan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-69-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-466-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-92-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 104-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….