Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 21 November 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Vermeende Varados-bendeleier is buite ‘n gimnasium in Roodepoort doodgeskiet
# ‘n Internasionale regskenner sê SA en Israel is in ‘n meer gespanne verhouding
# En, rugby: Dupont gaan die Sesnasies misloop om sewes te speel
# Die Gautengse polisie het bevestig die vermeende leier van die Varados-bende, Leroy “Finch” Brown, is noodlottig gewond buite die Virgin Active-gimnasium in Horison, Roodepoort. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê Brown was op pad uit die gimnasium toe twee onbekende aanvallers hom genader en op hom losgebrand het. Die motief vir die skietery is nog onbekend en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Dit is die tweede keer dat ʼn vermeende bendeleier in dieselfde omgewing vermoor is. Die vermeende leier van die Fast Guns, Keenen Sheldon Ebrahim, is in Februarie doodgeskiet.
# Die internasionale regskenner, Patrick Kadima sê daar is ʼn tasbare gespanne dinamika tussen Suid-Afrika en Israel. Die spanning het toegeneem toe Israel sy ambassadeur vir raadpleging teruggeroep het, wat saamgeval het met Suid-Afrika se parlementêre stemming oor die moontlike sluiting van die Israeliese ambassade. Boonop is Suid-Afrika die voorsitter van die buitengewone gesamentlike vergadering van BRICS oor Gaza, waar lede na verwagting ‘n gesamentlike verklaring oor die huidige situasie sal uitreik. Kadima het aan eNCA gesê die dringende BRICS-vergadering het moontlik bygedra tot die verhoogde diplomatieke spanning tussen Suid-Afrika en Israel:
# Die Stad Tshwane het die vinnige optrede van metropolisiebeamptes geloof nadat gemeenskapslede van Soshanguve-Suid se uitbreiding vier aangemeld het dat slote gegrawe en die stad se kabels gesteel word. Die metropolisie het sy kabeldiefstaleenheid ontplooi om ondersoek in te stel. Die voorsitter van die stad se Artikel 79-oorsigkomitee vir Gemeenskapsveiligheid, Thabang Sebotsane, sê met hulle aankoms in die gebied het die slootgrawers met vuurwapens op hulle losgebrand:
# Rugby: Frankryk se 15-man-kaptein, Antoine Dupont, gaan volgende jaar die Sesnasiesreeks misloop sodat hy sewes kan speel by die Olimpiese Spele in Parys. Die skrumskakel is ook die kaptein van Toulouse en is die tweede keer as die Top 14 se speler van die jaar aangewys, maar dis onseker of hy steeds vir die klub gaan speel wanneer hy vroeg volgende jaar oorskakel na sewes. Eurosport berig Dupont se afwesigheid in die Sesnasies sal ʼn probleem skep vir die toetsafrigter, Fabian Galthié, wat nou ʼn nommer nege en ʼn kaptein moet aanwys.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-40-sent teen die dollar, 20-rand-16-sent teen die euro en 23-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 37-duisend-168-dollar-73-sent. Die prys van goud is een-duisend-994-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-84-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Verslag van die Nelson Mandela-kinderfonds oor die toestand van kinders in die land, het aan die lig gebring een uit elke vyf kinders is slagoffers van seksuele mishandeling. Die fonds se uitvoerende hoof, Linda Ncube-Nkomo, beklemtoon ‘n derde van kinders verkeer in gevaar van aanlyn geweld, uitbuiting en mishandeling. Ncube-Nkomo het erken hierdie getalle bied nie die volle omvang van die uitdagings waarmee kinders te kampe het nie, aangesien nie elke geval aangemeld word nie. Sy is van mening Suid-Afrika voer oorlog teen kinders, en beklemtoon die dringende behoefte aan verandering.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….