Nuus 17:00
BULLETIN 4 Augustus 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Poskantoor kry sy eerste ongekwalifiseerde oudit in ses jaar
# President Ramaphosa verwelkom die Koning Nyabela-hospitaal as ‘n stap vorentoe vir universele toegang tot gesondheidsorg
# En, ‘n IDAC-advokaat betwis die bewerings dat die operasionele handleiding nie gebruik word nie
# Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se eerste ongekwalifiseerde oudit in ses jaar word as ‘n belangrike mylpaal in sy herstelproses beskou. Die Ouditeur-generaal het bevind die Poskantoor se jongste finansiële state bied ‘n regverdige beeld van sy finansiële posisie, hoewel daar steeds sekere probleme met voldoening is. Die staatsbeheerde liggaam is sedert 2023 onder sakeredding en sê die verbeterde oudituitkoms weerspieël sterker finansiële bestuur en beheer. Die Poskantoor se bestuur meen dit sal help om die publiek se vertroue te herstel terwyl pogings voortduur om bedrywighede bestendig te kry en die organisasie se langtermynvolhoubaarheid te verseker.
# President Cyril Ramaphosa het amptelik die nuwe King Nyabela-hospitaal in Middelburg, Mpumalanga, geopen, as ‘n belangrike mylpaal in die uitbreiding van gehalte algemene gesondheidsorg. Die fasiliteit met sy 220 beddens sal meer as 240-duisend inwoners in die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit bedien en vervang die verouderende Middelburg-hospitaal. Ramaphosa sê die moderne hospitaal versterk die regering se verbintenis tot omvattende gesondheidsorg en algemene toegang deur die Nasionale Gesondheidsversekering. Hy het gemeenskappe aangespoor om die fasiliteit te beskerm:
# Die adjunkdirekteur van Openbare Vervolging by die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, advokaat Petre Seruya, het by die Madlanga-kommissie bewerings betwis dat die eenheid se Operasionele Handleiding nie gebruik word nie. Die voormalige hoof van IDAC, Andrea Johnson, het die indruk geskep die operasionele handleiding is nie werklik in die praktyk toegepas nie. In reaksie op getuienisleier Thabang Pooe se vraag het Serunye gesê die handleiding rig al sedert 2024 IDAC se daaglikse prosedures, operasionele standaarde en prosesse:
# Kameroen het ‘n grootskaalse skommeling van sy militêre leierskap aangekondig terwyl president Paul Biya steeds nie in die openbaar verskyn nie ná twee maande in die buiteland. Die 93-jarige het die hoof van die Presidensiële Wag tot brigadier-generaal bevorder en bevelvoerders in vier van die vyf gesamentlike militêre streke vervang. Die veranderings is aangekondig in presidensiële bevele op nasionale radio. Regeringsamptenare hou vol Biya leef en sal binnekort terugkeer. Sy langdurige afwesigheid het egter bespiegelings oor sy gesondheid en leierskap aangevuur terwyl die regerende party toenemend gekritiseer word.
# Rugby: Die All Black-haker George Bell se toer in Suid-Afrika is kortgeknip nog voor dit kon begin. Hy is op pad terug na Nieu-Seeland nadat hy dié week tydens oefening in Kaapstad beseer is. Brad Slater is opgeroep as sy plaasvervanger en sluit môre by die groep aan. Die waarnemende kaptein, Codie Taylor, sukkel glo ook met ‘n kuitbesering en is in ‘n stryd teen tyd om betyds fiks te wees vir Saterdag se eerste toerwedstryd teen die Stormers op die Kaapstad-stadion.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-934-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-64-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 85-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….