Nuus 17:00
BULLETIN 18 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Arbeidersparty verloor ‘n dringende aansoek om die nasionale dialoog te stop
# Tiffany Meek pleit onskuldig aan moord op haar seun, Jayden-Lee
# En sokker: Snoop Dog is nou die mede-eienaar van ‘n Walliese klub
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die Arbeidersparty se dringende poging van die hand gewys om die komende nasionale dialoog te stop wat op 15 Augustus begin. Die party het aangevoer president Cyril Ramaphosa het sy magte oorskry en die projek ter waarde van 700-miljoen-rand het geen wetlike steun nie. Die hof het egter bevind dat Ramaphosa binne sy grondwetlike mandaat opgetree het om nasionale eenheid te bevorder, met geen bewyse van uitsluiting, skade of onwettige besteding nie. Die aansoek is van die hand gewys, maar daar was geen kostebevel nie.
# Tiffany Meek het in die Landdroshof in Roodepoort, Gauteng, onskuldig gepleit aan die moord op haar elfjarige seun, Jayden-Lee. Die Graad 5-leerder is dood aan beserings wat toegedien is met ‘n stomp voorwerp en sy gekneusde liggaam is in hul woonstelgebou in Fleurhof, Johannesburg, gevind. Meek het emosioneel geraak toe aanklaers die saak uiteengesit het, en beweer sy is op bedrieglike wyse betrek. Die Meek-gesin bepleit geregtigheid en genesing en vra die publiek om nie die beskuldigde se familielede te teiken nie. Die saak sal Maandag voortgaan.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, sê die regering bou ‘n omvattende regerings- en samelewings-benadering om werkloosheid aan te pak. Sy het tydens die voorlegging van haar begroting in die Nasionale Raad van Provinsies dringende optrede versoek, veral rakende werkskepping vir die jeug. Meth sê meer as 79-persent van befondsde vakatures is geadverteer. Sy sê die doelwit is om die vakaturekoers teen einde vanjaar tot 12-persent te verminder, met die departement wat ‘n toekenning van vier-miljard-rand vir die 2025/26-boekjaar beskikbaar het:
# Statistieke Suid-Afrika sê daar is ‘n merkbare afname in siviele skuldsake. Siviele dagvaardings wat vir skuld uitgereik is het in die drie maande tot Mei vanjaar met 17-persent gedaal en die aantal siviele vonnisse wat aangeteken is, het met 20-persent gedaal vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Onica Mushwana van Statistieke SA sê die syfers dui op ‘n verlangsaming in skuldverwante regstappe in die land:
# Sokker: Die kletsrymer Snoop Dogg het ‘n mede-eienaar geword van die Walliese kampioenskapspan Swansea City, in ‘n onwaarskynlike alliansie tussen die wêreld van vermaak en sokker. Die 53-jarige Amerikaner sluit aan by die voormalige staatmaker van Real Madrid, Luka Modric van Kroasië, in die eienaarskap-struktuur. Snoop Dogg het verlede week onverwags op Swansea se sosiale media-kanale verskyn in die nuwe tuis-trui en daar is nou onthul dat hy ‘n belegger is. Dit volg nadat die Amerikaanse magnate Brett Cravatt en Jason Cohen die klub in November oorgeneem het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-841-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….