Nuus 17:00
BULLETIN 15 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Showmax se dokumentêre reeks ‘Tracking Thabo Bester’ word uitgesaai ná ‘n mislukte hofaansoek
# ‘n Gebrek aan handtekeninge verhinder nóg twee politieke partye om in die verkiesing mee te ding
# En, rugby: Die Crusaders beleef hul slegste Superrugby-seisoen nóg
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het Thabo Bester en Nandipha Magudumana se dringende aansoek verwerp, om die uitsending van MultiChoice en Showmax se dokumentêre reeks “Tracking Thabo Bester” te verbied. Die reeks sal van vandag af uitgesaai word. Bester en Magudumana het probeer om die uitsending te keer totdat hy insette kon lewer. Regter Stuart Wilson het beslis dat hul aansoek gebrekkig is en het ook geweier om ‘n kostebevel toe te staan op grond van hul gevangene-status:
# Nóg twee politieke partye sal nie aan die komende verkiesing op 29 Mei kan deelneem nie. Die Spectrum National Party en die Unemployed People’s Movement kon nie genoeg handtekeninge bymekaar maak om hul deelname te verseker nie. Dié partye was deel van die Veelpartyhandves. Dit volg op die aankondiging van die Change Starts Now-party, wat ook nie kon voldoen aan die vereiste van 15-duisend handtekeninge vir nuwe politieke partye om aan die verkiesing deel te neem.
# Die Vereniging van Staatsamptenare versoek misdaadintelligensie om pro-aktief te wees om kuberafpersing aan te pak, ná onlangse kuberaanvalle op regeringstelsels. Kommer neem toe oor die veiligheid van burgers se inligting ná aanvalle by die Staatspensioen-administrasie-agentskap en die Departement van Binnelandse Sake. Die VSA se woordvoerder, Claude Naiker, versoek streng maatreëls en gebeurlikheidsplanne om kritieke data te beskerm en ontwrigte dienste te herstel. Volgens Naiker moet die regering kuberveiligheid vooropstel, in tegnologie belê en vaardighede verbeter om kuberbedreigings doeltreffend teen te werk:
# Slegs twee uit 15 forensiese verslae oor bedrog en korrupsie wat die vorige raad van die Nasionale Loterykommissie aangevra het, is ten volle in werking gestel. Kommissaris Jodi Scholtz het die Parlement se portefeuljekomitee op Handel, Nywerheid en Mededinging ingelig daar is ondersoeke waarby raadslede en lede van die topbestuur betrek is, maar geen stappe is gedoen nie. Die nuwe leierskap het egter beloof dat hulle die aanbevelings uit die verslae sal sentraliseer en instel, met die hoofouditeur wat ‘n werksverhouding met die Valke sal bou met die oog op verdere ondersoeke.
# Rugby: Die Sewemalige Superrugby-kampioen, die Crusaders, beleef hul swakste seisoen nóg, na hulle vierde agtereenvolgende nederlaag. Hulle het vanoggend in Christchurch 14-10 teen die Hurricanes verloor, wat die druk op die nuwe afrigter, Rob Penney, verder laat toeneem. Hy het oorgeneem toe Scott Robertson die hoofafrigter van die All Blacks geword het, maar sy span kon tot dusver vanjaar nog nie ‘n enkele wedstryd wen nie. Die Crusaders se kaptein, David Havili, was nie bereid om hul swak prestasie aan hulle lang beseringslys toe te skryf nie, al was sewe van die span se All Blacks nie dié week beskikbaar nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 20-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-788-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….