Nuus 17:00
BULLETIN 2 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die petrolprys mik na meer as 30-rand per liter
# Rugby: Babalwa Latsha is terug om die Springbok-vroue Sondag teen Spanje aan te voer
# En, drie Wes-Kaapse onderwysers word vereer vir uitnemendheid
# Suid-Afrikaanse motoriste kan vanaf Woensdag rekordhoë brandstofpryse verwag, met die prys van 95-oktaan-petrol wat na verwagting met meer as drie-rand per liter sal styg en vir die eerste meer as 30-rand per liter sal kos. Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds toon die verhoging kan drie-rand-21-sent beloop, wat die binnelandse prys op sowat 30-rand-13-sent per liter te staan sal bring. Dieselpryse kan ook nuwe rekords bereik, met die duurder graad wat moontlik met meer as drie-rand kan styg tot ongeveer 33-rand-15-sent per liter. Die regering sal die finale brandstofpryse volgende week aankondig.
# Amanda Nel, die verdedigingsadvokaat vir die geskorste adjunk- nasionale polisiekommissaris, Shadrack Sibiya, het aangevoer mnr. M het moontlik ‘n motief om vals bewerings teen Sibiya te maak. Nel het aan die Randburgse landdroshof gesê Sibiya het mnr. M finansieel bygestaan, maar daarmee opgehou ná ‘n beweerde breuk tussen hulle. Sy het aangevoer dit het moontlik ‘n wrok laat ontstaan. Die ondersoekbeampte, speurder Nokukhanya Ndlovu, het dit betwis en gesê mnr. M het bande met Sibiya verbreek weens sy beweerde optrede:
# Die Amerikaanse Departement van Verdediging oorweeg dit om sy gebruik van outonome toesigbote langs die Rio Grande en in die Golf van Mexiko uit te brei. Die sonkragaangedrewe vaartuie, wat ongeveer so groot soos kano’s is, word sedert Januarie gebruik om onwettige migrante en dwelmhandelaars op te spoor. Die huidige vloot bestaan uit 10 bote, maar amptenare wil soveel as 50 byvoeg om die druk op Kuswag-spanne en vliegtuie te verlig. Die onbemande vaartuie kan maande lank aaneen werk en gebruik kameras, hittesensors en sonar om bedrywighede op te spoor. Volgens die departement het die stelsel reeds elke maand gehelp met honderde opsporings en inhegtenisnemings.
# Rugby: Babalwa Latsha keer terug as die vaskopstut en kaptein van die Springbok-vrouespan vir Sondag se toetswedstryd in die Women’s-15 Global Series teen Spanje in Sevilla. Sy ruil plekke met Nombuyekezo Mdliki, wat op die bank begin. Die afrigters, Laurian Johannes-Haupt en Franzel September, het min veranderinge aangebring aan die span wat Italië verlede naweek tuis geklop het. Mary Zulu, wat vroeër vandeesweek by die groep aangesluit het na Libbie Janse van Rensburg beseer is, bied dekking vir die losskakel- en heelagterposisies van die bank af.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-65-sent teen die dollar, 18-rand-73-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 86-duisend-672-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-198-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-30-sent per vat.
# En ten slotte, die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê drie onderwysers in die provinsie het eerbewyse ontvang op die 26ste Nasionale Onderwystoekennings in Johannesburg. Die wenners is Mthobi Fihla van die Phakamisani Primary School in Plettenbergbaai, Danielle Bosch van Laerskool Koos Sadi in Goodwood en Hortense Stegmann van die Laerskool Welgemoed. Die drie was deel van 15 onderwysers wat die Wes-Kaap by die toekennings verteenwoordig het. Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, Jaco Londt, het die drie onderwysers hartlik gelukgewens:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….