Nuus 17:00
BULLETIN 1 Oktober 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, prys twee jaar van skoon ouditprestasie
# Die regering gee die hernubare energiemeesterplan ‘n hupstoot
# En, Israel ondersoek die beweerde aanval op ‘n Flydubai-vlug
# Die Openbare Beskermer, Kholeka Gcaleka, het haar kantoor se prestasie geprys, nadat hy vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar ‘n skoon oudit behaal het. Gcaleka sê die instelling se saakafhandeling het tot 89-persent verbeter, terwyl sake wat deur die howe hersien is, met 87-persent afgeneem het. Sy sê die implementering van regstellende maatreëls het tot 67-persent gestyg. Gcaleka sê die instelling het ook 100-persent van sy sleutel prestasie-teikens vir die tweede boekjaar behaal:
# Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Alexandra Abrahams, het met belanghebbendes vergader om vordering met die Meesterplan vir Hernubare Energie te hersien. Die komitee sluit verteenwoordigers in van die regering, die bedryf, georganiseerde arbeid en die hernubare energiesektor. Abrahams sê die energie-oorgang moet bekostigbaarheid en toeganklikheid vooropstel en die ekonomie ondersteun. Sy sê die instelling sal ook fokus op die uitbreiding van plaaslike vervaardiging en die versekering van betroubare elektrisiteitsvoorsiening:
# Die Wes-Kaapse Department van Infrastruktuur het ‘n vyfjaar-ooreenkoms onderteken met die Forum vir Kunsmatige Intelligensie vir Ontwikkelende Lande in Genève om die verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie in infrastruktuurontwikkeling te bevorder. Die LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê die moontlike gebruik van KI sal ondersoek word vir infrastruktuurbeplanning, projekmonitering, besluitneming en om projekte beleggingsgereed te maak. Simmers sê die vennootskap sal ook fokus op verantwoordbare, mensgesentreerde KI en die ontwikkeling van plaaslike kundigheid:
# Israel wil vasstel wat aanleiding gegee het tot ‘n voorval waarin ‘n Flydubai-medevlieënier na bewering die kaptein op ‘n vlug van Dubai na Tel Aviv aangerand het. Die beseerde kaptein kon daarin slaag om die kajuitdeur oop te maak, waarna passasiers en reserwebemanningslede die vermeende aanvaller oorweldig het voor die vliegtuig veilig in Saoedi-Arabië geland het. Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê dit is te vroeg om te bepaal of Iran betrokke was. Die Verenigde Arabiese Emirate het intussen ‘n ondersoek na die voorval van stapel gestuur, insluitend of terrorisme moontlik ‘n rol gespeel het.
# Sokker: Cristiano Ronaldo het Portugal se kamp verlaat voor vanaand se UEFA-Nasiesligawedstryd teen Denemarke en beloof hy sal mettertyd die rede onthul. Die 41-jarige was ‘n ongebruikte plaasvervanger tydens Sondag se oorwinning van 2-1 oor Noorweë. Dit het berigte laat ontstaan oor moontlike onmin met afrigter Jorge Jesus, wat ook bevestig het hy beplan nie om Ronaldo in die opdrafspan te kies vir vanaand se kragmeting in Kopenhagen nie. Ronaldo het sy spanmaats op sosiale media sterkte toegewens vir hulle komende wedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-540-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-175-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 103-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….