Nuus 17:00
BULLETIN 13 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Politieke partye word gewaarsku teen diskreditering van die verkiesingsproses
# Tshwane kry ‘n verbeterde oudit-uitkoms
# En, gholf: Die Asiese Toer beplan om ‘n toernooi by te voeg om spelers vir die Olimpiese Spele te help kwalifiseer
# Defend Our Democracy vra politieke partye om nie ongegronde twyfel te saai oor die verkiesingsproses en die Onafhanklike Verkiesingskommissie nie. Die burgerlike samelewingsgroep, wat sy verkiesings-monitorveldtog begin het, is bekommerd dat sekere partye, veral die uMkhonto we Sizwe-party, kommerwekkende verklarings doen, wat dreigemente insluit, en die OVK diskrediteer. Andries Sibanyoni van die groep vra partye vir opbouende kritiek, om verkiesingswaarneming oor te laat aan die burgerlike samelewing, en om optrede te vermy wat demokrasie skaad:
# Die oudit-uitkoms van die Stad Tshwane toon verbetering van nadelig in 2022 tot gekwalifiseer in 2023, wat dui op vordering in bestuur. Die burgemeester, Cilliers Brink, erken die aansienlike verbetering, en skryf dit toe aan beter oorsig en die werk van die hoof finansiële beampte, Gareth Mnisi. Brink sê die doelwit is ‘n ongekwalifiseerde oudit vir die huidige boekjaar, en beklemtoon die toewyding aan die herstel van finansiële beheer:
# Mediclinic is na ‘n onafhanklike ondersoek vrygespreek van opsetlike rekening-manipulasie. Geen opsetlike manipulasie of kodering is gevind nie, met foute wat toevallig was en vinnig reggestel is. Die ondersoek is aangevra na aansprake deur verklikkers, en was aanvanklik op ses hospitale gerig, met nog wat later bygekom het. Die uitvoerende hoof van Mediclinic Suider-Afrika, Greg van Wyk, erken daar was foute, maar beklemtoon die uitwerking daarvan was gering vergeleke met transaksievolume. Die hospitaalgroep skakel gereeld met mediese fondse om foute te verminder en reg te stel.
# Die Zimbabwiese ministerie van Landbou waarsku plaasgrond waarop mielies geplant is, het met 12-persent verminder weens skroeiende El Niño-weerpatrone, wat die voedselvoorraad bedreig. Die afname van 1,96-miljoen hektaar na 1,73-miljoen, kan pryse laat opskiet en maatskaplike onrus veroorsaak met paniekaankope en graanopgaring wat verwag word. Die ekonoom Eddie Cross sê die hele Suider-Afrikastreek het sy droogste Februarie in dekades beleef, met Zambië wat weens die droogte ‘n nasionale ramptoestand afgekondig het:
# Gholf: Die Asiese Toer beplan om voor Junie nog ‘n toernooi by te voeg om spelers te help kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in Parys. Net 60 spelers sal kwalifiseer en die meeste lande kan net twee stuur. Daar is net twee toernooie op die toer oor voor Junie, naamlik in Saoedi-Arabië en Suid-Korea. Die hoof van die toer se internasionale reeks, Rahul Singh, sê hulle werk om nog ‘n toernooi te reël voor die Olimpiese gholf-ranglys op 17 Junie finaliseer word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-944-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-163-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….