Nuus 17:00
BULLETIN 29 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan Suid-Afrikaners vanaand toespreek oor die moorde op vroue in Ekurhuleni
# Kiesers word aangemoedig om verlore ID’s te vervang en om aansoeke vir spesiale stemme voortydig in te dien
# En, die geskorste adjunk-kommissaris, Shadrack Sibiya ontvang kennisgewing van ‘n dissiplinêre verhoor
# President Cyril Ramaphosa spreek die land vanaand sewe-uur toe oor die regering se reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord. Hy sal ook ‘n oorsig gee oor die ondersoeke na moorde op vroue in Ekurhuleni, Gauteng. Die toespraak volg te midde van toenemende kommer oor geweld teen vroue. Die SABC sal die toespraak uitsaai, en dit word regstreeks op die Presidensie se digitale platforms gestroom.
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het kiesers met identiteitsdokumente wat verlore of beskadig is, aangemoedig om dit by Binnelandse Sake of deelnemende banktakke te vervang voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November. Ntshavheni het intussen aangekondig aansoeke vir spesiale stemme is nou oop en sluit 12 Oktober om vyf-uur die middag. Sy vra ook alle politieke partye en onafhanklike kandidate om die verkiesingsgedragskode streng na te kom:
# Die polisie gaan sy geskorste adjunkkommissaris, Shadrack Sibiya, Maandag dissiplinêr verhoor. Hy het borgtog gevra in die Randburgse Landdroshof in Gauteng, waar hy aangekla word van verkragting, seksuele gereedmaking en ander misdrywe. Woordvoerder Athlenda Mathe sê Sibiya is ingelig terwyl hy in die polisieselle aangehou is. Sy sê hy moet die verhoor persoonlik bywoon, en die plek waar dit gehou word sal bepaal word ná Donderdag se uitspraak in sy borgtogaansoek:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê ‘n vermeende terreurkomplot naby ‘n Britse Lugmagbasis wat deur Amerikaanse magte gebruik word, dui op buitelandse betrokkenheid. Vyf Britse mans van Londen is Sondag naby RAF Fairford in hegtenis geneem en gister op borgtog vrygelaat. Britse teen-terreur-amptenare ondersoek of hulle namens ‘n buitelandse staat opgetree het. Rubio het nie die land identifiseer of enige bewyse verskaf nie terwyl sy president, Donald Trump, sê daar kan moontlik ‘n skakel met Iran wees. Teheran onten enige betrokkenheid. Die ondersoek duur voort.
# Krieket: ‘n Heeltemal nuwe Protea-span word verwag vir môre se laaste eendagwedstryd teen Australië in Potchefstroom nadat Suid-Afrika reeds die reeds beklink het deur die eerste twee wedstryde te wen. Die afrigter Shukri Conrad sê hulle mik steeds daarna om skoonskip te maak in die reeks, maar wil ook die groep se diepte toets. Hy sê talle boulers en kolwers kom deur Krieket Suid-Afrika se stelsel en sake lyk tans baie gesond. Die eendagreeks sal gevolg word deur drie toetse waarvan die eerste een volgende Vrydag in Durban begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-63-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-392-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-156-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 100-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….