Nuus 17:00
BULLETIN 11 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC is tevrede met die OVK se verduideliking van die kandidatelys-haakplek
# Die ANC-Jeugliga se president glo ANC-vrywilligers moet voorkeur geniet in die Nasi Ispani-projek
# En, rugby: Saterdag se finale ronde van die Sesnasies sal die wenner bepaal
# Die ANC sê hy is tevrede met die Onafhanklike Verkiesingskommissie se verduideliking van die probleem met die vrystelling van sy kandidatelys vir die verkiesing. Die uitgelekte lyste sluit ook dié van die uMkhonto weSizwe Party in. Die OVK ondersoek die onwettige vrystelling van die kandidatelyste en het onderneem om diegene uit te ken wat daarvoor verantwoordelik was. Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het aan die media gesê die OVK het hulle die versekering gegee dit was ‘n geïsoleerde voorval:
# Die president van die ANC-jeugliga, Collen Malatji, pleit dat ANC-vrywilligers in Gauteng moet voorkeur geniet in die Nasi Ispani-projek. Die ANC-gesteunde werkprogram, gelei deur premier Panyaza Lesufi, worstel met kritiek van opposisiepartye ten spyte van vorige ontkennings oor die politieke aard daarvan. Lesufi beweer meer as 90-duisend werksgeleenthede is geskep sedert sy ontstaan. Malatji dring aan Gautengers en ANC-ondersteuners moet bevoordeel word. Hy vra partyvrywilligers moet eerste ontplooi word om die projek se waardes te weerspieël.
# Wes-Kaapse ouers word versoek om aanlyn aansoek te doen vir graad 1- en 8-leerders vir die 2025 akademiese jaar. Die aansoekproses het vandag begin met sewe-duisend-875 aansoeke wat ontvang is. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê opwip-toelatingsplekke is ook beskikbaar. Ouers moet gesertifiseerde dokumente van hul laaste skoolrapport, identiteitsdokumente, inentingskaarte vir laerskole en bewys van verblyf voorberei. Hy sê die aansoeke sluit op 12 April:
# Portugal se sentraal-regse Demokratiese Alliansie, gelei deur Luis Montenegro, het ‘n mededingende parlementêre verkiesing gewen. Met byna 99-persent van die stemme getel, het beide die Demokratiese Alliansie en die Sosialistiese Party sowat 28,67-persent van die stemme gekry, terwyl die verregse Chega-party 18-persent ingewin het. Montenegro hou vol hy sal nie met Chega saamwerk nie, en beklemtoon die belangrikheid om kiesers se keuse te respekteer. Die leier van die Sosialistiese Party, Pedro Nuno Santos, het erken hy het verloor en het die Demokratiese Alliansie met sy oorwinning gelukgewens.
# Rugby: Saterdag se finale ronde van die Sesnasies sal die wenner bepaal, na ‘n paar onverwagte uitslae oor die naweek. Ierland is steeds boaan die punteleer, maar sy nederlaag teen Engeland op Twickenham gee die Engelse nog ‘n kans om die titel in te palm. Italië is tans in die vyfde plek en kan hulle beste uitslag tot dusver behaal, terwyl Wallis sukkel om te verhoed dat hy laaste eindig. Op Super-Saterdag verwelkom Wallis Italië in Cardiff, Ierland ontmoet Skotland in Dublin en Frankryk kom in Lyon te staan teen Engeland.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-948-dollar-70-sent. Die prys van goud is twee-duisend-176-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….