Nuus 17:00
BULLETIN 28 September 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum veroordeel dodelike skietvoorvalle by sjebiens in Gauteng en die Wes-Kaap
# Die DA sê terugvordering alleen is nie genoeg in die Tembisa-korrupsiesaak nie
# En, die terreurverdagtes by Lugmagbasis Fairford is almal Britse mans uit Londen
# Die Activists and Citizens Forum sê townships het al hoe onveiliger geword ná die reeks dodelike skietvoorvalle by sjebiens oor die naweek in Gauteng en die Wes-Kaap. Dennis Bloem van die forum doen ‘n beroep op sterker polisie-optrede van misdaadintelligensie om massaskietvoorvalle te voorkom en die verantwoordelikes te identifiseer. Hy versoek ook die regring om grensbeheer te verskerp ten einde die onwettige beweging van vuurwapens aan bande te lê.
# Die DA verwelkom die Spesiale Ondersoekeenheid se terugvordering van 42-miljoen-rand wat verband hou met die korrupsieskandaal by die Tembisa-hospitaal. Die party voer egter aan die verhaling van belastingbetalers se geld is nie genoeg nie, en dring aan die hele korrupsienetwerk moet ondersoek word sodat diegene wat daarvoor verantwoordelik is, aan dissiplinêre of strafregtelike stappe onderwerp word. Madeleine Hicklin van die DA dring aan by Gautengse Departement van Gesondheidom verkrygingsbeheermaatreëls te verskerp en enige oorblywende fondse wat weens beweerde korrupsie verlore gegaan het, te verhaal:
# Die getuienisleier van die Madlanga-kommissie, advokaat Matthew Chaskalson, sê WhatsApp-boodskappe toon hoe taxi-base Oupa Sindane en Joe Sibanyoni na bewering beskermingsfooie van konstruksiemaatskappye eis. Chaskalson het selfoonboodskappe voorgelê wat na bewering verwys na gedwonge betalings en dreigemente om werksaamhede te ontwrig. In een gesprek spreek Sindane teleurstelling uit oor die feit dat hy nie sy deel van ‘n ooreenkoms ontvang het nie van ’n kontak wat as Bab Ntuli geïdentifiseer is. Sindane en Sibanyoni is medebeskuldigdes in afpersing- en geldwasserysake:
# Die Britse polisie sê al vyf mans wat in hegtenis geneem is vir ‘n vermeende terreurkomplot naby die Koninklike Lugmagbasis Fairford, is Britse burgers in hulle twintigerjare en van Londen. Die mans is gister gearresteer na drie verdagte voertuie op pad na die Gloucestershire-lugbasis opgemerk is. Die Amerikaanse weermag gebruik die basis. Hulle is aanvanklik in hegtenis geneem vir beweerde plofstofmisdrywe en later vir ‘n vermeende poging tot die pleeg van ‘n terroristedaad. Teen-terrorisme-polisie sê die ondersoek is nog in ‘n vroeë stadium, insluitend bande met Iran, maar geen motief is nog vasgestel nie.
# Krieket: Anrich Nortjé en Gerald Coetzee kan na toetskrieket terugkeer nadat hulle in die Proteas se voorlopige groep ingesluit is vir die drie toetse teen Australië. Die Dolphins se kaptein, Marques Ackermann, kan sy eerste toets speel. Kagiso Rabada is ook ingesluit terwyl hy steeds herstel van ‘n besering wat hom uit die eendagreeks teen die besoekers gehou het, maar sy mede-snelboulers, Kwena Maphaka, Lungi Ngidi en Ottneil Baartman is steeds op die krukkelys. Die eerste toets begin volgende Vrydag in Durban.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-373-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-149-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 102-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….