Nuus 17:00
BULLETIN 8 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Bykomende een-miljard-rand is nodig om die Parlement te herbou
# Die Nasionale Vergadering stel ‘n paneel aan om die verwydering van ‘n kommissaris van die Kommissie vir Geslagsgelykheid te ondersoek
# En die Springbok-afrigter gaan binnekort bekend wees as “doktor Erasmus”
# Die sloping van die brandbeskadigde Nasionale Vergadering-gebou sal na verwagting in April begin. Die Parlement se sekretaris, Xolile George, het aan die Finansiële Bestuurskomitee gesê ‘n bykomende een-miljard-rand is nodig vir opgraderings, benewens die twee-miljard-rand wat aanvanklik toegeken is. Hy sê die sperdatum vir voltooiing is ook uitgestel, van November 2025 tot Februarie 2026. George sê die hersiene skatting beloop 2,1-miljard-rand vir hoofwerke en 943-miljoen-rand vir die modernisering van inligting-en-kommunikasie-tegnologie-infrastruktuur. Die kantore vir Parlementslede is reeds voltooi.
Die Nasionale Vergadering het intussen ‘n onafhanklike paneel aangewys om ‘n voorlopige ondersoek te doen om te bepaal of daar prima facie-bewyse is vir die verwydering van Mbuyiselo Botha as ‘n kommissaris van die Kommissie vir Geslagsgelykheid. Die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, sê die paneel moet bepaal of Botha wangedrag gepleeg het, en onbevoeg is. Mothapo sê die paneel moet binne 30 dae sy bevindings afhandel:
# Die DA in Limpopo eis nouer samewerking tussen die Departemente van Onderwys en Vervoer vir meer veiligheid met die vervoer van leerders. Dié oproep volg nadat drie leerders gister gesterf het in ‘n ongeluk tussen Lebowakgomo en Burgersfort. Die party vra nouer samewerking om veiligheid en nakoming vir openbare én onafhanklike skoolvervoer-voertuie te verseker. Katlego Suzan Phala van die DA eis dat wetstoepassers hulle padveiligheidpogings verskerp om nóg tragedies te voorkom:
# Die Departement van Water en Sanitasie het tydens Watermaand samewerking met buurlande aangekondig om wateruitdagings regdeur Suid-Afrika aan te pak. Die adjunkminister, David Mahlobo, sê wateronderbrekings is te wyte aan swak infrastruktuur-onderhoud. Die minister benadruk hulle probeer om deur middel van dié ooreenkoms betroubare en volhoubare watervoorsiening te verseker aan gemeenskappe wat geraak word in verskillende dele van die land.
# Rugby: Die dubbele Wêreldbeker-wenner en hoofafrigter van die Springbokke, Rassie Erasmus, gaan ‘n eredoktorsgraad van die Noordwes-Universiteit ontvang. Die eregraad, in Afrigtingswetenskap, sal Erasmus vereer vir sy leierskap, vernuwende afrigtingstrategieë en toewyding tot verskeidenheid, insluiting en maatskaplike verantwoordelikheid binne die rugbygemeenskap. Die eregraad gee erkenning aan Erasmus se deurslaggewende rol in die Springbokke se seëvierende Wêreldbeker-veldtogte van 2019 en ’23, en sy pogings in talentontwikkeling in nasionale rugby.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-523-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-162-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….